Tag Archives: Woord

Hou aan met bid!

Het jy ooit by die plek gekom wat jy bid en bid en wag en wag, maar alles is doodstil. Jy wonder selfs of daar werklik ‘n Here in die hemel is; of is daar iemand daar buite wat hoor as jy sug? Daar kom tye wat jy moedeloos raak en ander kere sommer maar net opgee. Nee, moenie opgee nie! Ek wil jou vandag bemoedig met die Woord. Daar is drie dinge uit die versgedeeltes wat my vasgryp. Vat vandag hierdie belofte en maak dit jou eie!

1. Psalm 6:9b – Die Here het die stem van jou geween gehoor
Die Here hoor en sien wanneer jy huil. Jy is nie alleen nie. Moenie dat die vyand vir jou jok nie. Psalm 56 skryf Dawid dat die Here selfs jou trane opvang in ʼn kruik. Elke traan wat val weet Hy van. In 2 Konings 20 sien ons dat die Here ook vir Hiskia, toe hy dink hy gaan sterf, gesê het: Ek het jou trane gesien…! Vandag wil ek jou bemoedig! Die Here hoor die stem van jou geween – al kan niemand anders dit hoor nie. Al huil jy in jou kussing, Hy hoor jou! EN Hy sien jou trane.

2. Psalm 6:10a – Die Here het jou smekinge gehoor
Om te smeek is seker die uiterste wat mens kan gaan om iets te vra. Dit is meer as net vra: dit is uit jou hart uit. Wat is dit wat jy voor smeek. Is dit vir jouself? Miskien vir jou kind – of dalk jou man. Miskien wag jy vir ʼn antwoord rondom jou werk – en jy smeek elke dag die Here om in te gryp. Ek wil jou bemoedig: moenie op hou nie! Hy hoor jou smekinge! Joh 15:6 leer Johannes ons: As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

3. Psalm 6:10b – Die neem jou gebed aan
Wat ʼn versekering! Die Here, onse Here, neem jou gebed aan. Die Psalm digter skryf in die Good News vertaling: Ps 138:8 “I will do everything that I have promised!” Daarom sê vir hulle: So spreek die Here Here: Geeneen van My Woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as Woord spreek, dit sal gebeur! Ese 12:28

Ek bid dat jy vandag sal moed skep! Hou aan bid! Jou deurbraak is voor die deur!
Sterkte

Lief vir jouself?

Ek wonder –  is jy lief vir jouself? Regtig lief?  Net soos jy is?

 Ek lees in Markus 12:30-31 leer Jesus ons dat ons die Here ons God moet liefhe uit ons hele hart en uit ons hele siel en uit ons hele verstand en uit ons hele krag.  Dan gaan dit verder en stel die volgende daaraan gelyk: Jy moet jou naaste liefhe soos jouself.

Ek het hieroor gaan sit en dink! Soos jouself?  Maar wat as jy jouself nie liefhet nie?  Hoe kan jy lief he ‘soos jouself’ ‘as jy nie eers van jouself  hou nie.  Die beeld wat jy in die spieel sien, staan jouself glad nie aan nie.  Jy hou nie van wat jy sien nie – hierdie persoon het jou al soveel keer teleur gestel.  Die persoon in die spieel is die persoon wat jou al soveel in die steek gelaat het…  so kan jy aangaan! So die vraag is: hoe kan jy lief wees ‘soos jouself’?

Is dit nie die rede hoekom ons land is wat dit is nie?  Is dit nie hoekom jy nie kan verstaan hoe mens werklik lief kan he nie…  Is dit nie die rede hoekom jy so ongelukkig is nie? Jy het net eenvoudig nie lief nie!

Wil jy nie vandag net ‘n bietjie weer vir ‘n slag in die spieel gaan kyk en vasstel wat dit is wat jou so kwaad en teleurgesteld het in die persoon wat jy moet kan liefhe nie?  Eers dan sal jy ander, jou naaste, werklik kan leer liefhe!

Gebed: Here, met my mond bely ek vandag dat ek U liefhet met my hele hart, verstand en siel. Help my en vergewe my waar ek faal om ander lief te he, en dit omdat ek myself nie lief het nie.  Help my, om dit wat verkeerd gegaan het, te ontdek, sodat ek meer van myself ook kan hou en sodoende ander kan leer liefhe. Amen