Tag Archives: toekoms

Bye-Bye Gemiddeld wees

BYE-BYE GEMIDDELD WEES – Ek wonder of dit moontlik is? So banaal. So vanselfsprekend! Wees net gemiddeld en alles is in orde! Vandag wil ek met jou daaroor gesels. Kan dit gedoen word en indien wel, hoe? Stap saam my die pad, miskien kan ons maar inhaak en dan maak dit die reis makliker.
Daag jouself uit om meer te doen en te bereik as die vorige klompie maande. Jy kan!! . Ons moet mekaar uitdaag. As jongmeisie het ek gedroom van sukses, roem, toekoms ens. Ek wou sangeres word, op die tv verskyn en honderde aanhangers en bewonderaars hê. Ek wou ʼn sterk bank balans hê – mooi klere aantrek en gereeld gegaan het vir ‘facials’ ens. Wat is daar nie alles wat ek nog aan kan dink nie
Vandag? Ja vandag is ek net ʼn gewone vroutjie. Pastoor van ʼn kosbare gemeente. Wonder of iemand my raaksien, of is ek sommer net ʼn gemiddelde mens.
Nee wag, ek is moeg vir middelmatigheid. Dit is nie nodig om in die slaggat van middelmatigheid te trap nie. Jy ook nie! Jy het nie nodig om middelmatig, taamlik gewoon of niks besonders te wees nie. Middelmatigheid laat geen ruimte vir groei en verandering nie. Jy sus jouself en jou selfbejammering met: “As ek more nog dieselfde mens as vandag is, is dit ook maar goed so. Ek moenie te veel gepla wees nie, almal maak maar so…”
Hoe beveg ons die karakter wat elke dag saamstap: middelmatigheid? Hier is ʼn paar voorstelle om finaal met die gemiddelde mens wees af te reken. Eerstens moet ons begin om anders te dink. JA JA… jy het reggehoor! Verander jou denke! Jou gedagtes skep die realiteit waarin jy leef. Hou op om te dink dat die maar die manier is hoe jy dink en hoe jy nie is nie. Is dit dalk nie die rede hoekom die lewe so verby jou gaan nie. Om ‘anders’ te wees – moet jy bewus wees van denkpatrone wat jou verhoed om uit te styg en bereid te wees om te verander. Vervang dan die negatiewe denkpatroon met opbouende frases soos: “Ek het wat nodig is om ʼn sukses te maak.”
Nog ʼn voorstel is: Hou op om bang te wees. Vrees vir verandering en mislukkings. Waag.. dit is die moeitewerd. Om bang te wees vir mislukkings is in om jou eie vermoëns te twyfel. Stel vir jouself nuwe doelwitte, al gaan dit maar stadig, hou net aan. Dit sal bydrae dat jou vrese ook sal verminder.
Die doelwitte wat jy vir jouself stel, sal jou visie weer instel. Soms raak ons so vasgevang in die hede dat ons vergeet om na die toekoms te kyk. Leef vir die oomblik. Kry weer koers EN hou op verskonings maak. Daardie liewe, ‘AS EK MAAR DIT… AS EK MAAR DAT!” ai! Kom nou… “Daag jouself uit”
Geen mens is net ʼn gewone mens nie. Maar jy moet bereid wees om die eerste stap te neem. Wees braaf, neem die besluit om te verander en doen iets daaromtrent. Jy kan!!!

Pessimis of Optimis?

Ek groet elkeen in die onfeilbare naam van ons Heer en Meester, Jesus Christus.

Elke keer wanneer ons na die media luister, hoor mens net slegte nuus; en dit laat mens besef die toekoms lyk nie goed nie. Vrees en onsekerheid is aan die orde van die dag. Die vraag bly egter staan: Wat doen ons wanneer dinge nie so goed lyk nie? Ek het onlangs op hierdie stukkie wysheid afgekom:

The pessimist mainly complains about the wind.
The optimist simply expects it to change.
The realist wisely adjusts the sails.

Dit is so waar. Watter een van die drie is jy? ‘n Pessimis wat net kla of ʼn optimis wat net eenvoudig ‘verwag’ dat daar ʼn verandering sal kom, maar self niks doen nie. Of is jy ʼn realis, daardie iemand wat iets doen, wat die werklikheid sien en dan iets daaromtrent doen.

Dit is my gebed dat ons meer realiste in die gemeente sal hê. Mense wat gewillig sal wees om hul denkwyse aan te pas oor die lewe, en veral oor ons Koning Jesus. Wanneer ons dink die toekoms lyk nie goed nie, tap dit al die energie uit ons uit en al wat dit by die mens laat is vrees, neerslagtigheid en ʼn ‘dors’ na ʼn beter toekoms. Die Here is gereed om ons te help. Hy vat die vrees weg en gee ons ʼn hoopvolle toekoms… En GELOOF! Jes 44:3 sê “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond!” Die King James lees: ” For I will pour water upon him that is thirsty, and floods upon the dry ground.”

Ek raak so opgewonde oor die Woord: God het gesê!!! Ja, Hy het gesê!!! Hy sal voorsien, Hy is getrou, Hy is Alomteenwoordig, Hy is die antwoord, Hy is die Herder, Hy is ons Geneesheer, Hy is Wonderbaar! Geen wonder Martin Luther het eens op ʼn tyd geskryf: “Your thoughts about God are too human.” God het gesê Hy sal die water van die lewe op ons uitstort – niks is by Hom onmoontlik nie! Hou vas, staan vas en leef soos ʼn realis! Dien die Here en Hy sal voorsien, ver bo wat jy ooit kan hoop, dink of verwag! Al lyk die toekoms hoe faal of deurmekaar, God bly in beheer!