Tag Archives: staan

Staan weer op!

Een van die ergste dinge wat mens kan oorkom is om te val… Dit is seker een van die vinnigste reaksies wat ʼn mens kan hê: jy vlieg op en maak seker niemand het jou dalk gesien nie. Kan jy met my saamstem?

Net so kom jy ook op ʼn plek waar jy geestelik val. Foute maak. Jy voel geestelik asof alles net nie wil uitwerk nie. Jy voel jy kan en wil nie ander in die oë kyk nie. Jy weet nie wat ander gaan sê as hulle moet hoor nie. Op die oog af lyk alles so ‘reg’- maar jy weet jy het eintlik geval. Jy het weer die fout gemaak;  jy het weer gefaal;  jy het weer misluk!

Die profeet Miga se stem het tot die volk gekom:

Wees nie bly oor my nie, o my vyandin!

Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my. Miga 7:8 

Miskien is daar ander wat ook vir jou lag; of dalk wat hulle in jou omstandighede verlekker. Miga skryf en sê: Julle kan maar lag, al het ek geval, ek staan weer op.  Al voel dit vandag dat jy jouself a.g.v. jou foute – in die duisternis bevind: onthou Jesus is die Lig en Hy sal jou daaruit haal.

Vers 18 – 19 skryf Miga: Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van U volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag U getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry en ons sondes onder U voete vertrap en hulle diep in die see gooi.

Die belangrikste is om te erken jy het  ʼn fout gemaak. Dit is die eerste stap. Erken jy het geval en sit in die duisternis. Jesus is getrou (1 Joh 1:9) om al jou oortredinge te vergewe. Meer as dit: Hy vertrap dit onder Sy voete en gooi dit in die diep see. Sy genade is vir jou genoeg. Staan net op! Al het jy geval, jy moet WEER OPSTAAN! Miga bevestig in vers 18 dat Vader se toorn nie ewig hou nie, Hy het ʼn welbehae in goedertierenheid.  Hy is genadig, barmhartig en goedhartig: Staan net op. Die Woord leer ons in Rom 3:23 dat ons almal gesondig het – dus: staan op en bely! Hy hou ingedagte wie en wat jy  is (Ps 103:14), sit jou hand in Syne en staan op!  Al het jy geval – jy staan weer op!

Groot manne en vroue het al geval. Moses, Dawid, ens.  In ons tyd: o.a. Jimmy Swaggart, Evan John Roberts, Maria Woodworth-Etter en nog vele meer, maar die geheim is, hulle het soos die verlore seun van die Bybel gesê: Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, (Luk 15:18) en hulle het! Gaan kyk maar.

Rick Warren skryf: THE ONLY WAY TO GET UP IS TO GET DOWN ON YOUR KNEES!!!

Staan op! Jy kan! Jy is nie alleen nie. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader. Staan net op! En begin weer oor. Moenie bly lê nie. Sê vir jouself: Julle kan almal maar lag, ek het geval, ja, maar ek staan weer op. Ek is miskien vandag in die duisternis, ek weet Hy is my lig. Ek kies, om op te staan.

Sterkte