Tag Archives: Rom 10:11

Bang

Elke keer wanneer ek die Woord oop maak om te lees, spring daar ‘n versie uit wat lees:  Moenie bang wees nie, of moenie bevrees wees nie.  Gee iemand vir my ‘n spesifieke skrifgedeelte, sal jy my glo? – is dit voorwaar iets rondom: vrees of bang!

Is ek bang, hoekom is ek nie so seker nie?  Is ek?  Of is dit sommer net ‘n gevoel?  Iets wat jou bybly die hele dag.  ‘n Gevoel van onsekerheid. ‘n Gevoel van ‘wat as’?  Dit is ‘n iets wat jou kan laat staar na ‘n niks, of ‘n pyn op die maag los, of sommer net ‘n gevoel van “jy is nie ok nie“.  Hierdie was die gevoel wat ek vir n week of meer mee geworstel het.  Ek weet die Skrif spreek dit baie duidelik aan deur te leer dat Vader ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar wel van liefde, krag en selfbeheersing.  Hierdie ‘gevoel’ kan jou laat voel dat jy sefls ‘selfbeheering‘ langs die pad verloor het.  Dit laat jou voel jy verloor beheer oor jou menswees.  Die vraag “wat as” bly die hele dag by jou.

Skielik kom ek tot die besef:  dit is nie van die Here nie.  Hy het belowe Hy sal my nie alleen laat en my nie begewe nie.   Rom 10:11 leer duidelik dat Hy die wat op Hom vertrou, nooit ooit in die steek sal laat nie.  Ek besef dat Hy my voor en agterhoede is.  Ek besef dat Hy my Herder is en dat NIKS my ooit sal ontbreek nie. Ek moet breek met die gevoel van “wat as” en ook met die gedagte van “ek is bang“. 

Wat ‘n voorreg om ‘n Hemelse Pappa te he wat kan help met die tipe gevoelens.  Ek het die voorreg gehad om sommer net by Hom te gaan sit en te wag en te wag en te wag totdat ek ervaar het die ‘gevoel’ laat my in vrede. Ek het dit bely en net eenvoudig my alles aan Hom oorgegee.  Is dit nie wonderlik om net te kan oorgee en te weet Hy is in beheer nie.  Is dit nie amazing om te kan voel en ervaar hoe Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, oor jou spoel nie?

Dit is waar ek my vandag bevind:  In Sy skaduwee, met Vlerke van vrede wat my net toevou.  Niks en niemand kan my ooit uit Sy hand ruk nie.  Ek kyk nie meer angstig rond nie,  ek weet wat ek weet!  Hy sal vir my fight, ek moet net stil wees.

Ek wil jou tog bemoedig:  sou jy wat my briefie lees, hierdie ‘goed’ ervaar.  Gaan sit net n ruk in Jesus se teenwoordigheid en wees stil.  Gee dit vir Hom en hoor hoe Hy (Jesus)  jou by jou naam roep.  Jesus is die antwoord  –  Hy is die rede van rustigheid.  Hy is vrede – moenie bang wees nie!!!

Hou vas aan Sy hand en weet!

Karin