Tag Archives: radeloos

Gee My nou ‘n kans

Van natuur wil die mens altyd in beheer wees.  Jy wil dinge self uitsorteer, jy wil dit self uitwerk en self die antwoorde soek en kry. Dit is ook so dat mens dan van die een instansie na ‘n ander gaan vir antwoorde.  Of selfs van die een dokter na ‘n ander – maar self wil jy dit doen.

Dan is die mens tog ook so gou om te kla en die Here blameer – vrae soos “hoekom antwoord die Here nie” en “die Here hoor my nie” of “waar was die Here toe ek Hom so nodig gehad het” – is al wat ons bely.

Klink dit nie bekend nie…?  Voel jy nie ook soms so nie? 

Ek dink aan die staal puzzels wat die kinders mee speel. Die wat so inmekaar gevleg is en jy moet dit losmaak van mekaar.  Hulle sukkel om dit los te maak, raak ongeduldig en gooi dit later neer en gee net eenvoudig op. Sou jy as ma dan die staal puzzel optel en wil help, vat hulle dit terug en laat jou gou verstaan hulle weet hoe …!  Ken jy dit?

Ek word herinner aan die Woord:  Jesaja 30:18 in die Lewende Bybel: “En tog wag die Here nog altyd vir ‘n kans om te wys hoe goed Hyis – HY IS GEREED om enige oomblik in te gryp!!!”

Wow, is dit nie wonderlik nie – Hy staan gereed om enige oomblik in te gryp.  Wil jy nie maar dit wat jou so pla, dit wat so seer is, dit wat so probleme veroorsaak, oorgee aan Hom nie.  Jesus staan gereed om enige oomblik in te gryp.  Hy het die antwoord, Hy is die antwoord, Hy is die weg en die lewe.  Ps 32:8 – Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; My oog sal op jou wees” – GEE MY NET ‘n KANS!!

Liefies

Karin