Ek groet elkeen in die onfeilbare naam van ons Heer en Meester, Jesus Christus.
Elke keer wanneer ons na die media luister, hoor mens net slegte nuus; en dit laat mens besef die toekoms lyk nie goed nie. Vrees en onsekerheid is aan die orde van die dag. Die vraag bly egter staan: Wat doen ons wanneer dinge nie so goed lyk nie? Ek het onlangs op hierdie stukkie wysheid afgekom:
The pessimist mainly complains about the wind.
The optimist simply expects it to change.
The realist wisely adjusts the sails.
Dit is so waar. Watter een van die drie is jy? ‘n Pessimis wat net kla of ʼn optimis wat net eenvoudig ‘verwag’ dat daar ʼn verandering sal kom, maar self niks doen nie. Of is jy ʼn realis, daardie iemand wat iets doen, wat die werklikheid sien en dan iets daaromtrent doen.
Dit is my gebed dat ons meer realiste in die gemeente sal hê. Mense wat gewillig sal wees om hul denkwyse aan te pas oor die lewe, en veral oor ons Koning Jesus. Wanneer ons dink die toekoms lyk nie goed nie, tap dit al die energie uit ons uit en al wat dit by die mens laat is vrees, neerslagtigheid en ʼn ‘dors’ na ʼn beter toekoms. Die Here is gereed om ons te help. Hy vat die vrees weg en gee ons ʼn hoopvolle toekoms… En GELOOF! Jes 44:3 sê “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond!” Die King James lees: ” For I will pour water upon him that is thirsty, and floods upon the dry ground.”
Ek raak so opgewonde oor die Woord: God het gesê!!! Ja, Hy het gesê!!! Hy sal voorsien, Hy is getrou, Hy is Alomteenwoordig, Hy is die antwoord, Hy is die Herder, Hy is ons Geneesheer, Hy is Wonderbaar! Geen wonder Martin Luther het eens op ʼn tyd geskryf: “Your thoughts about God are too human.” God het gesê Hy sal die water van die lewe op ons uitstort – niks is by Hom onmoontlik nie! Hou vas, staan vas en leef soos ʼn realis! Dien die Here en Hy sal voorsien, ver bo wat jy ooit kan hoop, dink of verwag! Al lyk die toekoms hoe faal of deurmekaar, God bly in beheer!