Tag Archives: Message

Hou vas, hou aan en druk deur

Ek kan amper nie glo ons is alweer aan die begin van ʼn splinternuwe jaar nie!  En dan wonder ek…  Hoe gaan dit met jou?  Voel jy dalk bietjie mistroostig?  Dalk moedeloos of sommer net geïrriteerd?  Hoekom is dit dan so?  Hoe het jou 2015 geëindig?  Voel jy dalk jy het jou alles ingesit en kyk nou, alles lyk so deurmekaar?  Wil jy sommer net wegstap van alles af?  Nee wag!  Moenie! Ek wil jou bemoedig, aanmoedig en vra om net asb. aan te hou, vas te hou en deur te druk.  Gun my die geleentheid om asb. met jou ʼn Skrifgedeelte te deel.

Lukas 5:1-2 sê: “en toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennesaret staan en sien twee skuite aan die kant van die meer lê: maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel”.

Die Skrywer is baie spesifiek in hierdie gedeelte en gee aan ons baie detail.  Ons sien onder andere hoe Simon sy bootjie verlaat het.  Hoe hy die hele nag vis gevang het, of sal ek eerder sê, probeer vis vang het.  Dan lees ons van sy leë skuit wat aan die kant van die meer staan.  Sy net is uitgewas en dit was die einde van alles vir Simon.  Hy het genoeg gehad.  Hy het sy alles gegee.  Hy is OP!

Is dit nie dalk hoe jy ook vandag voel nie?  OP! Moeg en siek en sat.  Jy het die hele 2015 jou alles ingesit, jy het meer as net jouself gegee, en dinge het net nie uitgedraai soos jy gehoop en verwag het nie.  Jou huwelik, jou kinders, en dan praat ons nie eens van die finansies nie.  Alles is net aan flarde.  Jou bootjie is leeg, en daar gaan jy!  Dit is dit…

Wag eers…  Kom ons kyk gou wat het verder in Simon se storie gebeur.  Jesus verskyn op die toneel.  Daar is duisende mense wat in nood na Jesus kom vir antwoorde.  Hulle is siek, party blind, doof en ander dalk net moedeloos.  Jesus staan teen die meer en die skare kom nader.  Almal soek Sy aandag.  Almal soek Hom!  Wat gebeur toe?  Jesus SIEN die Skuitjies.  Jesus sien die een wie die hele nag gesukkel het raak, die een wat besig is om op te gee, die een wat die skuitjie agter gelaat het.

Vandag sien Hy jou ook raak.  Hy weet van jou omstandighede.  Hy weet van jou ‘leë’ situasie.  Hy weet jy gaan deur moeilike dinge op die oomblik.  Jy is nie alleen nie.  Hy neem kennis van alles.  Die oë van die Here deursoek die hele aarde en soek die wat Hy kan ondersteun, die wie se harte onverdeeld op Hom gerig is – 2 Kron 16:9.  Deut 11:12 sê die oë van die Here is op ons van die begin van die jaar tot aan die einde.  Hy is ten volle bewus van jou en is besorgd oor jou.  Te midde van die groot skare met hulle behoefte en gedruk en gestamp, sien Hy jou raak.

Hoe spesiaal is dit nie! Kyk hoe spesiaal is jy vir Jesus! Hy weet van jou trane, en jou pyn.  Hy weet wanneer jy snags lê en dink aan al die goed.  Hy is daar!  Mense mag dalk nie omgee nie, jou man/vrou mag dalk nie omgee nie, jou kinders mag dalk nie omgee nie, maar Jesus doen.  HY SIEN JOU en dit is al wat tel. 2 Kon 20:5 sê “Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien”. Psalm 56:8 sê “U hou my trane in ʼn kruik.”  Jes 59:1 sê “Kyk die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie.”

Die wonder daarvan alles is dat Jesus nie net sien en alles net so laat staan nie.  Nee, Hy doen iets.  In Simon se storie klim Jesus toe in een van die skuite – Die een wat aan Simon behoort het.  Dit wat vir jou ‘useless’ is en lyk, daarin is Jesus.  Dit waarin Simon so teleurgesteld was; dit waarin hy so mismoedig was; juis dit… dit gebruik Jesus as ʼn plek waaruit Hy Sy boodskap kan bring.  Dit wat nie meer vir jou saak maak nie: juis dit gebruik Jesus.  Jou stryd, jou pyn en mislukking van 2015… onthou Jesus kan en wil en gaan dit gebruik.  Hy is in jou situasie.  Hou vas, hou aan en druk deur!  Jou ‘mess’ word ʼn ‘message’ – vanuit jou situasie, sal ander kan leer.

Die uiteinde van Simon se verhaal is dat hy, Simon, weer terug geklim het in sy skuit.  Die keer saam met Jesus.  Hy antwoord Jesus: “Here, op U WOORD sal ek weer probeer.” Hy het sy nette nog een keer gegooi in geloof en toe was sy nette vol!

Jesus is in jou saak, moenie stres nie.  Moenie van jou dinge af wegstap nie, dit is nie ʼn ‘useless case’ nie.  Laat Jesus dit vir jou bestuur.

Ek bid dat jy in 2016 sal sien hoe Hy alles vir jou laat uitwerk.  Mag alles wat jy van Hom gebid het, in vervulling kom. Lees Psalm 20.

ʼn Wonderlike 2016 bid ek jou toe.

Seënwense,

Karin

 

 

 

 

 

 

 

Hard Gestamp!

Was jy al ooit deur iets of iemand gestamp?  Ek kan nie help om te lag nie; so ‘n jaar of wat gelede stap ek in Woolies en ewe skielik kom een van hulle werkers om die draai met ‘n trollie – en needless te say:  Daar le ek toe op die grond.  Ek kan die verleentheid nooit aan iemand beskryf nie.  My knie het seer gekry en praat nie eers van my boud nie.  Almal se oe was op my en die arme vroue met die trollie het alles in haar vermoe probeer om my op te help…  en glo my, ek het die stamp gevoel.  Dit was seer, en ek het geweet ek het seer gekry.  Het sy dit met opset gedoen – nee ek glo nie, of eerder ek hoop nie so nie…

Wanneer iemand jou stamp, voel jy dit.  Die doel van ‘n stamp is tog om jou met krag na onder of teen iets te laat kom.  Jy verloor jou balans, jou hart klop vinniger, en glo my dit  kom onverwags; wanneer jy dit die minste verwag!

Dit het my laat dink aan die Woord:  Ps 118:13 in die Ou Vertaling lees:  “Jy het my hard gestamp om my te laaat val -maar die Here het my gehelp.” Die vyand is uit om vir my en jou te stamp.  Hy maak dit sy job om ons te laat val.  Hy is uit om te slag en te steel en te verwoes (Joh 10:10). Hy is daarop uit om ons te verniel!

Die Message vertaling stel dit so mooi: “I was right there on the cliff edge, ready to fall, when God grabbed and held me”. 

Voel jy ook miskien vandag so?  Reg daar op die krans, jy weet jy is besig om te val!  Jy wonder waar is die mense wat jou behoort by te staan.  Wie is daar om te help…  Skielik toe jy dit die minste verwag het, het iets gebeur.  Skielik het jou lewe net omgedraai.  Miskien is dit ‘n skielike werksverlies, ‘n ongeluk, finansiele terugslag, siekte, of selfs die dood en jy voel jy gaan val!  (Ek weet hoe dit voel toe die trolly my tref!  Jy kan dit nie keer nie. Jy weet jy gaan val! )

Vandag wil ek jou bemoedig:  Dawid skryf:  Maar die Here het my gehelp!  Hy is daar vir jou!  Hy wil en sal jou help!  Hy gee om vir jou!  Hy het gekom dat ons lewe kan he, en dit in oorvloed!

Staan op vriend(in) en laat Jesus toe om jou vas te hou, Hy sal nie toelaat dat jy oor die kranse val nie! Hy is baie lief vir jou!

Sterkte

Karin