Tag Archives: Hoop

Moenie haastig wees nie – glo

Wat is dan makliker as om vir iemand te sê: Man, glo jy net!
Om te kan glo en te vertrou, is makliker gesê as gedoen. Ons besef dat die Woord ons leer dat geloof ʼn vaste vertrou is op die dinge wat ons hoop en ʼn bewys is van dit wat ons nie kan sien nie; maar hoe doen mens dit?
Is dit nie dalk waar jy ook vandag is nie: Glo net: en jy probeer maar niks gebeur of verander nie. Miskien is jou situasie nie so maklik nie en dit voel asof jy dit kan uitskreeu dat mense jou net kan uitlos, terwyl jy kou aan die gedagte van : glo net.
Hoe doen mens dit? Hoe glo jy as dit dan so lank neem? Wanneer kom die antwoord? Wanneer word die saak opgelos? Wanneer sal die uitkoms daar wees? Hoe sal dit gebeur? Is dit moontlik? Kan dit gebeur? Wanneer? Wanneer?
Inteendeel, hoe langer jy wag, hoe erger is die situasie, hoe minder lyk dit na ʼn uitkoms. Alles lyk elke dag net meer en meer na ʼn fiasko.
Hoe gaan dit gebeur? Wie sal tot jou redding kom? Help!!!
Ek het nuus vir jou: Jes 28:16 leer ons: Hy wat glo – sal nie haastig wees nie! Ek weet dit is die laaste wat jy nou wil hoor – maar glo my dit is die waarheid. Hy (onse Here Jesus) is getrou – Hy sal jou nie in die steek laat nie – moenie haastig wees nie. Soms is ons les meer in die ‘wag’ as in die oplossing. Ek dink ons as mens sukkel geweldig met die ‘wag’. Ek belowe jou vandag – as jy kan glo… wag! Moenie haastig wees nie. Op die regte tyd, regte oomblik, regte manier sal God vir jou deurkom! Wag jy net – moenie haastig wees nie! Glo net!!

Lief vir jouself?

Ek wonder –  is jy lief vir jouself? Regtig lief?  Net soos jy is?

 Ek lees in Markus 12:30-31 leer Jesus ons dat ons die Here ons God moet liefhe uit ons hele hart en uit ons hele siel en uit ons hele verstand en uit ons hele krag.  Dan gaan dit verder en stel die volgende daaraan gelyk: Jy moet jou naaste liefhe soos jouself.

Ek het hieroor gaan sit en dink! Soos jouself?  Maar wat as jy jouself nie liefhet nie?  Hoe kan jy lief he ‘soos jouself’ ‘as jy nie eers van jouself  hou nie.  Die beeld wat jy in die spieel sien, staan jouself glad nie aan nie.  Jy hou nie van wat jy sien nie – hierdie persoon het jou al soveel keer teleur gestel.  Die persoon in die spieel is die persoon wat jou al soveel in die steek gelaat het…  so kan jy aangaan! So die vraag is: hoe kan jy lief wees ‘soos jouself’?

Is dit nie die rede hoekom ons land is wat dit is nie?  Is dit nie hoekom jy nie kan verstaan hoe mens werklik lief kan he nie…  Is dit nie die rede hoekom jy so ongelukkig is nie? Jy het net eenvoudig nie lief nie!

Wil jy nie vandag net ‘n bietjie weer vir ‘n slag in die spieel gaan kyk en vasstel wat dit is wat jou so kwaad en teleurgesteld het in die persoon wat jy moet kan liefhe nie?  Eers dan sal jy ander, jou naaste, werklik kan leer liefhe!

Gebed: Here, met my mond bely ek vandag dat ek U liefhet met my hele hart, verstand en siel. Help my en vergewe my waar ek faal om ander lief te he, en dit omdat ek myself nie lief het nie.  Help my, om dit wat verkeerd gegaan het, te ontdek, sodat ek meer van myself ook kan hou en sodoende ander kan leer liefhe. Amen