Dit is seker so 5 -6 jaar wat ek laas die vriendin raak geloop het. Dit is met n rooi gesig wat ek haar ‘vriendin’ noem. Na 5-6 jaar – skande! Daar was so baie om op te tel, so baie om te vertel; selfs af en toe ‘n traan gepik. Dit was so great om bietjie terug te blaai in die verlede. Ons het saam gewig verloor, saam gehuil, saam gelag, saam gestoei om die kinders deur die skool te kry.
Net voor ek die motor in tru-rat sit om huis se kant toe te staan, gooi sy my met ‘n vraag: Sing jy nog?
Hoeveel gaan die vraag nog vra? Laat verlede jaar het o.a. my buurvrou dieselfde soort vraag gevra: “Why don’t we hear the music anymore?”
Hoe antwoord jy op die vraag? Hoe vertel jy dit? Hoe verduidelik jy dit? Sing jy nog? Dit wat al die jare ‘n treasure was; dit wat jou ‘lewe’ was, waar is dit dan nou? Die vraag wat krap waar dit nie jeuk nie, die vraag wat jy nie wil hoor nie! Sing jy nog? Sing jy nog?
Half verlee, begin ek stadig teen die heuwel af ry – en antwoord sag: Soms, net as ek alleen is. Umm, ja ek sing nog!
Op pad huis toe bly die vraag my kop. Het ek die antwoord? Weet ek wat om te antwoord? Of het ek dit sommer net iewers te diep gebere?
Nee ek kies, ek gaan nie daaroor praat nie. Ek wil nie uitbrei nie. Los dit. Los dit net uit. Miskien eendag, ag eendag is ek miskien te oud. Maak in elk geval nie saak nie. Los dit net!
Vanoggend vroeg sit ek in Zellie se kamer en wag op Vader. Die gedagte van “sing jy nog” skoon verlore – heeltemal weg! En dit is toe dat ek die Skrif oopmaak… Soms praat die Skrif tot binne jou diepste wese… en toe staan dit daar!
Psalm 149:1 (LB) Sing ‘n nuwe lied vir die Here, sing om Hom te eer waar Sy getroues bymekaar kom. Nee!!! – ek kan dit nie glo nie: wie het gehoor en wie het geskinder. Hoe het Dawid geweet? Is dit die antwoord op “sing jy nog?” Is dit ‘n opdrag?