Tag Archives: Help

Moenie haastig wees nie – glo

Wat is dan makliker as om vir iemand te sê: Man, glo jy net!
Om te kan glo en te vertrou, is makliker gesê as gedoen. Ons besef dat die Woord ons leer dat geloof ʼn vaste vertrou is op die dinge wat ons hoop en ʼn bewys is van dit wat ons nie kan sien nie; maar hoe doen mens dit?
Is dit nie dalk waar jy ook vandag is nie: Glo net: en jy probeer maar niks gebeur of verander nie. Miskien is jou situasie nie so maklik nie en dit voel asof jy dit kan uitskreeu dat mense jou net kan uitlos, terwyl jy kou aan die gedagte van : glo net.
Hoe doen mens dit? Hoe glo jy as dit dan so lank neem? Wanneer kom die antwoord? Wanneer word die saak opgelos? Wanneer sal die uitkoms daar wees? Hoe sal dit gebeur? Is dit moontlik? Kan dit gebeur? Wanneer? Wanneer?
Inteendeel, hoe langer jy wag, hoe erger is die situasie, hoe minder lyk dit na ʼn uitkoms. Alles lyk elke dag net meer en meer na ʼn fiasko.
Hoe gaan dit gebeur? Wie sal tot jou redding kom? Help!!!
Ek het nuus vir jou: Jes 28:16 leer ons: Hy wat glo – sal nie haastig wees nie! Ek weet dit is die laaste wat jy nou wil hoor – maar glo my dit is die waarheid. Hy (onse Here Jesus) is getrou – Hy sal jou nie in die steek laat nie – moenie haastig wees nie. Soms is ons les meer in die ‘wag’ as in die oplossing. Ek dink ons as mens sukkel geweldig met die ‘wag’. Ek belowe jou vandag – as jy kan glo… wag! Moenie haastig wees nie. Op die regte tyd, regte oomblik, regte manier sal God vir jou deurkom! Wag jy net – moenie haastig wees nie! Glo net!!