“Hoe lyk hy? Is hy lank? Dra hy bril? Is hy cool… ag kom nou, vertel, vertel, vertel!”
Sjoe al die vrae in een asem? Ja, hoe lyk is… hoe lyk hy?
Ek onthou dit nog soos gister, ander kon dit sien, ander kon dit aanvoel – hierdie ‘iets’ wat met my gebeur het. Hoe lyk hy? My hart het wild gebons, die wange blos, die oë wat glinster soos duisende sterretjies! Hoe beskryf ek dit… nee, hoe beskryf ek die man wat ek lief het. Vir my is hy die sterkste, die ‘mooiste’, die langste: die man wat my hart gesteel het. Vandag so byna 28 jaar later, laat hy nog steeds my hart klop!
Ek sit en dink: Ek weet nie eers hoe lyk die Een wat ek die liefste het nie? Hierdie Persoon wat my eerste liefgehad het. Hoe lyk Hy? Is Hy ook groot, is Hy sterk? Het Hy ook groot sterk arms? Is Hy die Man met die lang hare en sagte oë wat ons op elke kinder Bybel sien. Die Man met die lang wit kleed? Hoe lyk Hy?
Hierdie Man laat my hart klop. Wanneer gaan ek Hom sien? Sal ek Hom herken, sal ek weet dit is Hy wanneer ek Hom sien? Ek wonder?
Ek weet ek sal Sy hande uitken. Ek sal die merke sien, die teken wat vertel van Liefde. Ek sal Hom herken aan Sy voete. Die voete wat op die stofpaaie gestap het, die voete wat spreek van oorwinning. Dit is Sy voete wat my oorwinning gee om ook op slange en skerpioene te trap. Ek lees dat Sy voete die aarde as rusplek het. Dit is Sy voete wat diep spore in my hart getrap het. Die voete wat blink soos koper; maar hoe lyk Hy wat ek die liefste het?
Die Woord leer dat Sy hare so wit soos sneeu is en oë soos vuurvlamme. Daardie oë wat dwarsdeur mens kan kyk. Ai ek wonder? Ek staar net en ek dink.. Hoe lyk Hy?
Hoe gaan dit wees die dag wanneer ons van aangesig tot aangesig mekaar sal sien. Sal Hy my in Sy sterk arms optel en my teen Sy bors vasdruk. Sal Sy oë na my kyk en ek die liefdes vuur daarin kan sien. Ek droom van die dag…
Ek droom en verlang na die dag wat ons sal dans en dans en dans. Ek droom van die dag wat ons sal stap al langs die see… maar hoe lyk hierdie Man wat ek die liefste het, regtig?
Ek droom van hierdie Man, Jesus, wat ek die liefste het… en jy?
Ek wonder… wonder jy ook?