Tag Archives: blomme

Jy oortref hulle almal!

“Jy oortref hulle almal”, hoor ek die dogter aan haar mami se, terwyl sy haar in ‘n greep beet het met die goudgeel bos blomme wat so half oor haar maer ou skouertjies  loer.  Die ou moeder se ogies blink,  ek moes weer kyk; was dit net ‘n blink in die ogies of was dit ‘n traan wat ek gesien het? “Jy oortref hulle almal” is al wat die mami hoor… kan dit waar wees?  Kan dit wees?  Sy klou krampagtig vas; knyp haar oe toe, gryp die agterkant van die dogter se strepies toppie vas terwyl sy net hard aan haar lip moes byt…  kan dit wees..?

Skielig druk sy haar weg, vee hard oor die gesig, en probeer hard om haar ‘pose’ te hou.  “Dankie my kind”, is al wat sy kan uitkry en vat bewerig die goudgeel bos blomme en draai om om dit in ‘n vaas te gaan sit. “Ek bedoel dit, Mami, jy oortref hulle almal” is al wat Elrien kan fluister en gaan sit op die bank en krap in haar groot sak op soek na ‘n tissue.  Hoekom glo sy my nie, hoekom stoot sy my weg?  Wat het veroorsaak dat sy eerder wegdruk, wegstap en selfs wegkyk, as om net ‘n drukkie te gee? Ag wat, miskien eendag! Miskien eendag sal ek ook verstaan. 

Ek sien in die weerkaatsing van die glas van die kombuiskas hoe Mami die blommetjies versigtig een vir een los in die vaas indruk… Geel was nog altyd my kleur van blomme… dankie sussa!  Ja jy het jou knap gedra my kind… baie knap!

Gelukkige Moedersdag vriendin

Spreuke 31:29 – Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.