Category Archives: Algemeen

Hou vas, hou aan en druk deur

Ek kan amper nie glo ons is alweer aan die begin van ʼn splinternuwe jaar nie!  En dan wonder ek…  Hoe gaan dit met jou?  Voel jy dalk bietjie mistroostig?  Dalk moedeloos of sommer net geïrriteerd?  Hoekom is dit dan so?  Hoe het jou 2015 geëindig?  Voel jy dalk jy het jou alles ingesit en kyk nou, alles lyk so deurmekaar?  Wil jy sommer net wegstap van alles af?  Nee wag!  Moenie! Ek wil jou bemoedig, aanmoedig en vra om net asb. aan te hou, vas te hou en deur te druk.  Gun my die geleentheid om asb. met jou ʼn Skrifgedeelte te deel.

Lukas 5:1-2 sê: “en toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennesaret staan en sien twee skuite aan die kant van die meer lê: maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel”.

Die Skrywer is baie spesifiek in hierdie gedeelte en gee aan ons baie detail.  Ons sien onder andere hoe Simon sy bootjie verlaat het.  Hoe hy die hele nag vis gevang het, of sal ek eerder sê, probeer vis vang het.  Dan lees ons van sy leë skuit wat aan die kant van die meer staan.  Sy net is uitgewas en dit was die einde van alles vir Simon.  Hy het genoeg gehad.  Hy het sy alles gegee.  Hy is OP!

Is dit nie dalk hoe jy ook vandag voel nie?  OP! Moeg en siek en sat.  Jy het die hele 2015 jou alles ingesit, jy het meer as net jouself gegee, en dinge het net nie uitgedraai soos jy gehoop en verwag het nie.  Jou huwelik, jou kinders, en dan praat ons nie eens van die finansies nie.  Alles is net aan flarde.  Jou bootjie is leeg, en daar gaan jy!  Dit is dit…

Wag eers…  Kom ons kyk gou wat het verder in Simon se storie gebeur.  Jesus verskyn op die toneel.  Daar is duisende mense wat in nood na Jesus kom vir antwoorde.  Hulle is siek, party blind, doof en ander dalk net moedeloos.  Jesus staan teen die meer en die skare kom nader.  Almal soek Sy aandag.  Almal soek Hom!  Wat gebeur toe?  Jesus SIEN die Skuitjies.  Jesus sien die een wie die hele nag gesukkel het raak, die een wat besig is om op te gee, die een wat die skuitjie agter gelaat het.

Vandag sien Hy jou ook raak.  Hy weet van jou omstandighede.  Hy weet van jou ‘leë’ situasie.  Hy weet jy gaan deur moeilike dinge op die oomblik.  Jy is nie alleen nie.  Hy neem kennis van alles.  Die oë van die Here deursoek die hele aarde en soek die wat Hy kan ondersteun, die wie se harte onverdeeld op Hom gerig is – 2 Kron 16:9.  Deut 11:12 sê die oë van die Here is op ons van die begin van die jaar tot aan die einde.  Hy is ten volle bewus van jou en is besorgd oor jou.  Te midde van die groot skare met hulle behoefte en gedruk en gestamp, sien Hy jou raak.

Hoe spesiaal is dit nie! Kyk hoe spesiaal is jy vir Jesus! Hy weet van jou trane, en jou pyn.  Hy weet wanneer jy snags lê en dink aan al die goed.  Hy is daar!  Mense mag dalk nie omgee nie, jou man/vrou mag dalk nie omgee nie, jou kinders mag dalk nie omgee nie, maar Jesus doen.  HY SIEN JOU en dit is al wat tel. 2 Kon 20:5 sê “Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien”. Psalm 56:8 sê “U hou my trane in ʼn kruik.”  Jes 59:1 sê “Kyk die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie.”

Die wonder daarvan alles is dat Jesus nie net sien en alles net so laat staan nie.  Nee, Hy doen iets.  In Simon se storie klim Jesus toe in een van die skuite – Die een wat aan Simon behoort het.  Dit wat vir jou ‘useless’ is en lyk, daarin is Jesus.  Dit waarin Simon so teleurgesteld was; dit waarin hy so mismoedig was; juis dit… dit gebruik Jesus as ʼn plek waaruit Hy Sy boodskap kan bring.  Dit wat nie meer vir jou saak maak nie: juis dit gebruik Jesus.  Jou stryd, jou pyn en mislukking van 2015… onthou Jesus kan en wil en gaan dit gebruik.  Hy is in jou situasie.  Hou vas, hou aan en druk deur!  Jou ‘mess’ word ʼn ‘message’ – vanuit jou situasie, sal ander kan leer.

Die uiteinde van Simon se verhaal is dat hy, Simon, weer terug geklim het in sy skuit.  Die keer saam met Jesus.  Hy antwoord Jesus: “Here, op U WOORD sal ek weer probeer.” Hy het sy nette nog een keer gegooi in geloof en toe was sy nette vol!

Jesus is in jou saak, moenie stres nie.  Moenie van jou dinge af wegstap nie, dit is nie ʼn ‘useless case’ nie.  Laat Jesus dit vir jou bestuur.

Ek bid dat jy in 2016 sal sien hoe Hy alles vir jou laat uitwerk.  Mag alles wat jy van Hom gebid het, in vervulling kom. Lees Psalm 20.

ʼn Wonderlike 2016 bid ek jou toe.

Seënwense,

Karin

 

 

 

 

 

 

 

Hou aan met bid!

Het jy ooit by die plek gekom wat jy bid en bid en wag en wag, maar alles is doodstil. Jy wonder selfs of daar werklik ‘n Here in die hemel is; of is daar iemand daar buite wat hoor as jy sug? Daar kom tye wat jy moedeloos raak en ander kere sommer maar net opgee. Nee, moenie opgee nie! Ek wil jou vandag bemoedig met die Woord. Daar is drie dinge uit die versgedeeltes wat my vasgryp. Vat vandag hierdie belofte en maak dit jou eie!

1. Psalm 6:9b – Die Here het die stem van jou geween gehoor
Die Here hoor en sien wanneer jy huil. Jy is nie alleen nie. Moenie dat die vyand vir jou jok nie. Psalm 56 skryf Dawid dat die Here selfs jou trane opvang in ʼn kruik. Elke traan wat val weet Hy van. In 2 Konings 20 sien ons dat die Here ook vir Hiskia, toe hy dink hy gaan sterf, gesê het: Ek het jou trane gesien…! Vandag wil ek jou bemoedig! Die Here hoor die stem van jou geween – al kan niemand anders dit hoor nie. Al huil jy in jou kussing, Hy hoor jou! EN Hy sien jou trane.

2. Psalm 6:10a – Die Here het jou smekinge gehoor
Om te smeek is seker die uiterste wat mens kan gaan om iets te vra. Dit is meer as net vra: dit is uit jou hart uit. Wat is dit wat jy voor smeek. Is dit vir jouself? Miskien vir jou kind – of dalk jou man. Miskien wag jy vir ʼn antwoord rondom jou werk – en jy smeek elke dag die Here om in te gryp. Ek wil jou bemoedig: moenie op hou nie! Hy hoor jou smekinge! Joh 15:6 leer Johannes ons: As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

3. Psalm 6:10b – Die neem jou gebed aan
Wat ʼn versekering! Die Here, onse Here, neem jou gebed aan. Die Psalm digter skryf in die Good News vertaling: Ps 138:8 “I will do everything that I have promised!” Daarom sê vir hulle: So spreek die Here Here: Geeneen van My Woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as Woord spreek, dit sal gebeur! Ese 12:28

Ek bid dat jy vandag sal moed skep! Hou aan bid! Jou deurbraak is voor die deur!
Sterkte

Geestelike Tsunami

As ek dink aan die Tsunamies wat o.a. die 11de Maart 2011 hoor van die Tsunami wat Japan getref het: ril ek.  Dit was op elke persoon wat ek teë gekom het se lippe.  Ja, daar was selfs diegene wat onvanpaste uitlatings gemaak het, en dan weer daardie persone wat besef het dat dit alles net spreek van hoe naby die koms van Jesus is.

Ek het gaan sit en dink aan die geweldige groot golf water.  Die oomblik toe die golf breek, het dit alles wat in die pad gekom het, meegesleur en net eenvoudig uitgevee… Als was weg gevee deur ‘n massa water. Dit was erg!

Die Woord leer ons dat wanneer ons van al hierdie dinge hoor, ons nie bang moet word nie, maar net weereens sal besef hoe naby die koms van Jesus is. Ons is in die laaste dae, en ons moet ons gereed maak vir Sy koms!

 Ek het gaan kyk na Handelinge 2:17 – “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van My Gees uitstort op alle vlees …”  Is dit nie wat ons moet ervaar nie?   

My liewe vriend(in), ons moet die Here nou meer as ooit begin soek! Ek weet dat Hy Sy Gees soos ʼn geestelike tsunami oor ons sal laat losbreek:  hierdie Golf sal ons nie vreesbevange maak nie, maar opgewonde, want dit is dan wanneer ons wonders en tekens sal sien gebeur.  Dit is dan wanneer al die slegte dinge in die mens se lewe weggesleur sal word en die mens ʼn skoon kanaal vir Sy werk sal wees.  Kom ons hou vas, bly biddend, soek die Here en verwag die uitstorting van die Heilige Gees – hierdie Geestelike Tsunami!

Staan weer op!

Een van die ergste dinge wat mens kan oorkom is om te val… Dit is seker een van die vinnigste reaksies wat ʼn mens kan hê: jy vlieg op en maak seker niemand het jou dalk gesien nie. Kan jy met my saamstem?

Net so kom jy ook op ʼn plek waar jy geestelik val. Foute maak. Jy voel geestelik asof alles net nie wil uitwerk nie. Jy voel jy kan en wil nie ander in die oë kyk nie. Jy weet nie wat ander gaan sê as hulle moet hoor nie. Op die oog af lyk alles so ‘reg’- maar jy weet jy het eintlik geval. Jy het weer die fout gemaak;  jy het weer gefaal;  jy het weer misluk!

Die profeet Miga se stem het tot die volk gekom:

Wees nie bly oor my nie, o my vyandin!

Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my. Miga 7:8 

Miskien is daar ander wat ook vir jou lag; of dalk wat hulle in jou omstandighede verlekker. Miga skryf en sê: Julle kan maar lag, al het ek geval, ek staan weer op.  Al voel dit vandag dat jy jouself a.g.v. jou foute – in die duisternis bevind: onthou Jesus is die Lig en Hy sal jou daaruit haal.

Vers 18 – 19 skryf Miga: Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van U volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag U getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry en ons sondes onder U voete vertrap en hulle diep in die see gooi.

Die belangrikste is om te erken jy het  ʼn fout gemaak. Dit is die eerste stap. Erken jy het geval en sit in die duisternis. Jesus is getrou (1 Joh 1:9) om al jou oortredinge te vergewe. Meer as dit: Hy vertrap dit onder Sy voete en gooi dit in die diep see. Sy genade is vir jou genoeg. Staan net op! Al het jy geval, jy moet WEER OPSTAAN! Miga bevestig in vers 18 dat Vader se toorn nie ewig hou nie, Hy het ʼn welbehae in goedertierenheid.  Hy is genadig, barmhartig en goedhartig: Staan net op. Die Woord leer ons in Rom 3:23 dat ons almal gesondig het – dus: staan op en bely! Hy hou ingedagte wie en wat jy  is (Ps 103:14), sit jou hand in Syne en staan op!  Al het jy geval – jy staan weer op!

Groot manne en vroue het al geval. Moses, Dawid, ens.  In ons tyd: o.a. Jimmy Swaggart, Evan John Roberts, Maria Woodworth-Etter en nog vele meer, maar die geheim is, hulle het soos die verlore seun van die Bybel gesê: Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, (Luk 15:18) en hulle het! Gaan kyk maar.

Rick Warren skryf: THE ONLY WAY TO GET UP IS TO GET DOWN ON YOUR KNEES!!!

Staan op! Jy kan! Jy is nie alleen nie. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader. Staan net op! En begin weer oor. Moenie bly lê nie. Sê vir jouself: Julle kan almal maar lag, ek het geval, ja, maar ek staan weer op. Ek is miskien vandag in die duisternis, ek weet Hy is my lig. Ek kies, om op te staan.

Sterkte

Moenie haastig wees nie – glo

Wat is dan makliker as om vir iemand te sê: Man, glo jy net!
Om te kan glo en te vertrou, is makliker gesê as gedoen. Ons besef dat die Woord ons leer dat geloof ʼn vaste vertrou is op die dinge wat ons hoop en ʼn bewys is van dit wat ons nie kan sien nie; maar hoe doen mens dit?
Is dit nie dalk waar jy ook vandag is nie: Glo net: en jy probeer maar niks gebeur of verander nie. Miskien is jou situasie nie so maklik nie en dit voel asof jy dit kan uitskreeu dat mense jou net kan uitlos, terwyl jy kou aan die gedagte van : glo net.
Hoe doen mens dit? Hoe glo jy as dit dan so lank neem? Wanneer kom die antwoord? Wanneer word die saak opgelos? Wanneer sal die uitkoms daar wees? Hoe sal dit gebeur? Is dit moontlik? Kan dit gebeur? Wanneer? Wanneer?
Inteendeel, hoe langer jy wag, hoe erger is die situasie, hoe minder lyk dit na ʼn uitkoms. Alles lyk elke dag net meer en meer na ʼn fiasko.
Hoe gaan dit gebeur? Wie sal tot jou redding kom? Help!!!
Ek het nuus vir jou: Jes 28:16 leer ons: Hy wat glo – sal nie haastig wees nie! Ek weet dit is die laaste wat jy nou wil hoor – maar glo my dit is die waarheid. Hy (onse Here Jesus) is getrou – Hy sal jou nie in die steek laat nie – moenie haastig wees nie. Soms is ons les meer in die ‘wag’ as in die oplossing. Ek dink ons as mens sukkel geweldig met die ‘wag’. Ek belowe jou vandag – as jy kan glo… wag! Moenie haastig wees nie. Op die regte tyd, regte oomblik, regte manier sal God vir jou deurkom! Wag jy net – moenie haastig wees nie! Glo net!!

Pessimis of Optimis?

Ek groet elkeen in die onfeilbare naam van ons Heer en Meester, Jesus Christus.

Elke keer wanneer ons na die media luister, hoor mens net slegte nuus; en dit laat mens besef die toekoms lyk nie goed nie. Vrees en onsekerheid is aan die orde van die dag. Die vraag bly egter staan: Wat doen ons wanneer dinge nie so goed lyk nie? Ek het onlangs op hierdie stukkie wysheid afgekom:

The pessimist mainly complains about the wind.
The optimist simply expects it to change.
The realist wisely adjusts the sails.

Dit is so waar. Watter een van die drie is jy? ‘n Pessimis wat net kla of ʼn optimis wat net eenvoudig ‘verwag’ dat daar ʼn verandering sal kom, maar self niks doen nie. Of is jy ʼn realis, daardie iemand wat iets doen, wat die werklikheid sien en dan iets daaromtrent doen.

Dit is my gebed dat ons meer realiste in die gemeente sal hê. Mense wat gewillig sal wees om hul denkwyse aan te pas oor die lewe, en veral oor ons Koning Jesus. Wanneer ons dink die toekoms lyk nie goed nie, tap dit al die energie uit ons uit en al wat dit by die mens laat is vrees, neerslagtigheid en ʼn ‘dors’ na ʼn beter toekoms. Die Here is gereed om ons te help. Hy vat die vrees weg en gee ons ʼn hoopvolle toekoms… En GELOOF! Jes 44:3 sê “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond!” Die King James lees: ” For I will pour water upon him that is thirsty, and floods upon the dry ground.”

Ek raak so opgewonde oor die Woord: God het gesê!!! Ja, Hy het gesê!!! Hy sal voorsien, Hy is getrou, Hy is Alomteenwoordig, Hy is die antwoord, Hy is die Herder, Hy is ons Geneesheer, Hy is Wonderbaar! Geen wonder Martin Luther het eens op ʼn tyd geskryf: “Your thoughts about God are too human.” God het gesê Hy sal die water van die lewe op ons uitstort – niks is by Hom onmoontlik nie! Hou vas, staan vas en leef soos ʼn realis! Dien die Here en Hy sal voorsien, ver bo wat jy ooit kan hoop, dink of verwag! Al lyk die toekoms hoe faal of deurmekaar, God bly in beheer!

Sit jy?

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit,
sal vernag in die skaduwee van die Almagtige”
Ps 91:1

Die woord “Psalm 91” is orals te siene, mense plak dit op hul voordeure en motor buffers. Hierdie Psalm word na verwys as die Psalm wat die mensdom ‘beskerm’. Ek het hieroor gaan sit en dink. Is dit dan al wat die Psalm van spreek: Beskerming? Tereg is dit so – Die tema van hierdie Psalm of gebed is: skuiling by die Allerhoogste en ook die beskerming van die Almagtige.

Ek was so seker dat ons iets mis. Wat kan dit wees? En daar sien ek dit: dit is hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste SIT – let op SIT, wat sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Die voorwaarde wat ons so maklik mis, is SIT. Dit is meer as net liggaamlike en besittings wat beskerming word. Dit is geestelike beskerming ook. Hoe kan ek verseker wees daarvan? SIT. Dit is dus ʼn plek wat ingeneem moet word.

Die King James Vertaling verwys na die SIT as ‘dwelleth” (properly to sit down, in quiet, to settle, tarry.)

Met ander woorde: om te gaan SIT beteken dat ons by die Allerhoogtes moet gaan SIT- In Sy teenwoordigheid moet kuier, naby aan Hom kom, te luister na wat Hy wil sê, sommer net daar te wees. Om te SIT spreek van ‘rustig wees’ en te wag. Wanneer ons met iemand kuier en bietjie wil SIT, is daar nie tyd ter sprake nie, jy wil daar sit en net rustig wees. Reg? Net so verwag onse Hemelse Vader dat ons tyd sal maak om by Hom te SIT.
Wanneer daar ‘n golf van emosies begin op-stoot binne ons, kan ons maar net na die Allerhoogste gaan en bietjie by Hom SIT. Dit is daar waar ons kan uitroep, daar waar ons kan huil en net onsself wees. Dit is daar waar ons antwoorde kry, daar waar ons vertroosting kry, dit is daar waar ons met die Heilige Gees vervul en gevul sal word.
Wanneer laas het jy net ‘n bietjie by onse Here Jesus van Nasaret, gaan SIT? Wanneer laas? Wanneer laas? Of is dit net ‘n Psalm plakker wat op die buffer van die motor of aan die voordeur aangebring is.
Onthou: die geheim van die alles is: SIT.
Ek wonder, SIT jy? Of is jy aan die hardloop? Word bietjie stil en dink… wat maak jou so besig dat jy nie net bietjie kan SIT nie?

I’ll lead you… put your trust in Me

Ek sit vandag en dink aan die lied wat ons sing:

“How great is our God,

How great is His Name.

He’s the only One,

Who is ever the same.

He rolled back the waters,

of the mighty Red Sea, and said:

I’ll lead you, put your trust in me.”

Dit is so ‘n ou lied, maar tog het die woorde diep in my hart vas bly staan. Dit het my herinner aan die Israeliete wat moes vlug van die Faroa en waar hulle hulself voor die groot see bevind.  Ek kan myself net voorstel wat hul moes dink… Hoe het hulle gevoel?  Verbeel jou jy staan voor ‘n groot see en die vyand is oppad..  Vrees was aan die orde van die dag.

Is dit nie presies hoe dit vandag in menigte van die mens se harte en gedagtes gaan nie.  Hoe gaan ons deur die dinge kom?  Wat gaan met ons gebeur? Jy sien en vole die vyand nader kom.  Jy sien nie die uitkoms nie en vra:  Wat kan ons doen?  Dit is maar ‘n paar vra wat mens kan noem…  Kom ek vat jou na die Woord:

Eksodus 14:13 “Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk…” Wat probeer Moses hier vir ons se?

Drie dinge staan hier uit:

1.        Wees nie bevrees nie

2.       Staan vas

3.       Aanskou

Wat ons hier lees is  presies wat hierdie liedjie ook vir ons leer. “He said: I’ll lead you, put your trust in Me.”  Die Here wil vandag vir jou sê, “Moenie angstig rondkyk nie… moenie bang wees nie.  Staan vas op My Woord, hou vas aan die beloftes… En kyk hoe Ek vir jou gaan deurkom.”

My versoek aan jou liewe vriend(in) is – Moenie omdraai nie!  Staanvas!  Die Here is aan jou kant!  Hy sal nooit toelaat dat iemand jou uit Sy hand ruk nie.  Hy sal jou deur die water neem, dit sal jou nie oorstroom nie.  Vertrou net op Hom en staan vas!

Sterk wees!  Hy bly getrou! Hy het belowe: I’ll lead you… put your trust in Me!

Karin

Hoe lyk hy?

“Hoe lyk hy? Is hy lank? Dra hy bril? Is hy cool… ag kom nou, vertel, vertel, vertel!”

Sjoe al die vrae in een asem? Ja, hoe lyk is… hoe lyk hy?

Ek onthou dit nog soos gister, ander kon dit sien, ander kon dit aanvoel – hierdie ‘iets’ wat met my gebeur het. Hoe lyk hy? My hart het wild gebons, die wange blos, die oë wat glinster soos duisende sterretjies! Hoe beskryf ek dit… nee, hoe beskryf ek die man wat ek lief het. Vir my is hy die sterkste, die ‘mooiste’, die langste: die man wat my hart gesteel het. Vandag so byna 28 jaar later, laat hy nog steeds my hart klop!

Ek sit en dink: Ek weet nie eers hoe lyk die Een wat ek die liefste het nie? Hierdie Persoon wat my eerste liefgehad het. Hoe lyk Hy? Is Hy ook groot, is Hy sterk? Het Hy ook groot sterk arms? Is Hy die Man met die lang hare en sagte oë wat ons op elke kinder Bybel sien. Die Man met die lang wit kleed? Hoe lyk Hy?
Hierdie Man laat my hart klop. Wanneer gaan ek Hom sien? Sal ek Hom herken, sal ek weet dit is Hy wanneer ek Hom sien? Ek wonder?
Ek weet ek sal Sy hande uitken. Ek sal die merke sien, die teken wat vertel van Liefde. Ek sal Hom herken aan Sy voete. Die voete wat op die stofpaaie gestap het, die voete wat spreek van oorwinning. Dit is Sy voete wat my oorwinning gee om ook op slange en skerpioene te trap. Ek lees dat Sy voete die aarde as rusplek het. Dit is Sy voete wat diep spore in my hart getrap het. Die voete wat blink soos koper; maar hoe lyk Hy wat ek die liefste het?
Die Woord leer dat Sy hare so wit soos sneeu is en oë soos vuurvlamme. Daardie oë wat dwarsdeur mens kan kyk. Ai ek wonder? Ek staar net en ek dink.. Hoe lyk Hy?

Hoe gaan dit wees die dag wanneer ons van aangesig tot aangesig mekaar sal sien. Sal Hy my in Sy sterk arms optel en my teen Sy bors vasdruk. Sal Sy oë na my kyk en ek die liefdes vuur daarin kan sien. Ek droom van die dag…
Ek droom en verlang na die dag wat ons sal dans en dans en dans. Ek droom van die dag wat ons sal stap al langs die see… maar hoe lyk hierdie Man wat ek die liefste het, regtig?

Ek droom van hierdie Man, Jesus, wat ek die liefste het… en jy?

Ek wonder… wonder jy ook?

 

En skielik het dit stil geword…

Om klein kiddo’s in die huis te he is nie altyd van die maklikste dinge om te hanteer nie.. of sal ek se: mensies om te hanteer nie.  Dit is vuil handjies, taai merke orals en papiere met krummels daarby wat heeldag en aldag opgetel moet word…

So word hulle groot… later is dit nie meer die vuil handjies wat pla nie, maar eerder die klere wat op die grond bly le. Maar skielik.. skielik om ‘n gewone dag word alles net stil.. en die laaste een is uit die huis. Doodstil. Niemand behalwe jy en manlief. Dit het net skielik STIL geword.  Is dit wat hulle nou noem die “lee-nes-sindroom”?  Is dit hoe dit voel? STIL. Doodstil!

Tog besef ek vanaand wat ‘n voorreg ek gehad het om in my kiddo’s se lewens te kon bele het.  Dit wat ek gedoen het, het ek gedoen. Niks en niemand kan iets daaraan verander nie. Dit is nou wat ek besef dat die net die Woord is wat ek aan kan vashou. Dit is net die Woord wat troos, dit is net die Woord wat moed gee.

Ek lees ‘n belofte in Jes 59:12

Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.

Ons dien ‘n Verbonds God.  Hy sal nooit so ‘n belofte gee en dit nie laat geskiet nie. Ek hou net hieraan vas. Tog besef ek, hier in die stilte:  Here wat het ek in my mond? En is die Gees van God op my?  Eers dan weet ek dat die stilte die moeite werd is…

Het dit ook skielik by jou stil geword?  Hoe hanteer jy die lee nes?  Het jy ‘n belofte uit die Woord wat jy aan kan vashou? 

Groete hier vanuit die ‘stilte’