All posts by Karin

Creativity. A word with so many definitions; and so many aspects. And I'm sure you have your own explanation on what creativity really is. But for me, it refers to an inner desire to portray your passion into something so tangible, it remains a legacy for generations to come. And this is exactly what Creative Lazering is all about. To give you the means to leave a legacy. And what better way to do this, than to use our creative letterling and wording in all your family memories and craft designs. With its durable quality and authentic designs, our lettering and words can be used in scrapbooking projects, crafts, projects etc. Personalised words will give all your projects that personal touch that will remain with you for many years to come. Enter into a new dimension of lasering with our products produced especially for you at Creative Lazering. Creatively yours Karin Gerber custom@polka.co.za

Hou vas, hou aan en druk deur

Ek kan amper nie glo ons is alweer aan die begin van ʼn splinternuwe jaar nie!  En dan wonder ek…  Hoe gaan dit met jou?  Voel jy dalk bietjie mistroostig?  Dalk moedeloos of sommer net geïrriteerd?  Hoekom is dit dan so?  Hoe het jou 2015 geëindig?  Voel jy dalk jy het jou alles ingesit en kyk nou, alles lyk so deurmekaar?  Wil jy sommer net wegstap van alles af?  Nee wag!  Moenie! Ek wil jou bemoedig, aanmoedig en vra om net asb. aan te hou, vas te hou en deur te druk.  Gun my die geleentheid om asb. met jou ʼn Skrifgedeelte te deel.

Lukas 5:1-2 sê: “en toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die meer Gennesaret staan en sien twee skuite aan die kant van die meer lê: maar die vissers het van hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel”.

Die Skrywer is baie spesifiek in hierdie gedeelte en gee aan ons baie detail.  Ons sien onder andere hoe Simon sy bootjie verlaat het.  Hoe hy die hele nag vis gevang het, of sal ek eerder sê, probeer vis vang het.  Dan lees ons van sy leë skuit wat aan die kant van die meer staan.  Sy net is uitgewas en dit was die einde van alles vir Simon.  Hy het genoeg gehad.  Hy het sy alles gegee.  Hy is OP!

Is dit nie dalk hoe jy ook vandag voel nie?  OP! Moeg en siek en sat.  Jy het die hele 2015 jou alles ingesit, jy het meer as net jouself gegee, en dinge het net nie uitgedraai soos jy gehoop en verwag het nie.  Jou huwelik, jou kinders, en dan praat ons nie eens van die finansies nie.  Alles is net aan flarde.  Jou bootjie is leeg, en daar gaan jy!  Dit is dit…

Wag eers…  Kom ons kyk gou wat het verder in Simon se storie gebeur.  Jesus verskyn op die toneel.  Daar is duisende mense wat in nood na Jesus kom vir antwoorde.  Hulle is siek, party blind, doof en ander dalk net moedeloos.  Jesus staan teen die meer en die skare kom nader.  Almal soek Sy aandag.  Almal soek Hom!  Wat gebeur toe?  Jesus SIEN die Skuitjies.  Jesus sien die een wie die hele nag gesukkel het raak, die een wat besig is om op te gee, die een wat die skuitjie agter gelaat het.

Vandag sien Hy jou ook raak.  Hy weet van jou omstandighede.  Hy weet van jou ‘leë’ situasie.  Hy weet jy gaan deur moeilike dinge op die oomblik.  Jy is nie alleen nie.  Hy neem kennis van alles.  Die oë van die Here deursoek die hele aarde en soek die wat Hy kan ondersteun, die wie se harte onverdeeld op Hom gerig is – 2 Kron 16:9.  Deut 11:12 sê die oë van die Here is op ons van die begin van die jaar tot aan die einde.  Hy is ten volle bewus van jou en is besorgd oor jou.  Te midde van die groot skare met hulle behoefte en gedruk en gestamp, sien Hy jou raak.

Hoe spesiaal is dit nie! Kyk hoe spesiaal is jy vir Jesus! Hy weet van jou trane, en jou pyn.  Hy weet wanneer jy snags lê en dink aan al die goed.  Hy is daar!  Mense mag dalk nie omgee nie, jou man/vrou mag dalk nie omgee nie, jou kinders mag dalk nie omgee nie, maar Jesus doen.  HY SIEN JOU en dit is al wat tel. 2 Kon 20:5 sê “Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien”. Psalm 56:8 sê “U hou my trane in ʼn kruik.”  Jes 59:1 sê “Kyk die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie.”

Die wonder daarvan alles is dat Jesus nie net sien en alles net so laat staan nie.  Nee, Hy doen iets.  In Simon se storie klim Jesus toe in een van die skuite – Die een wat aan Simon behoort het.  Dit wat vir jou ‘useless’ is en lyk, daarin is Jesus.  Dit waarin Simon so teleurgesteld was; dit waarin hy so mismoedig was; juis dit… dit gebruik Jesus as ʼn plek waaruit Hy Sy boodskap kan bring.  Dit wat nie meer vir jou saak maak nie: juis dit gebruik Jesus.  Jou stryd, jou pyn en mislukking van 2015… onthou Jesus kan en wil en gaan dit gebruik.  Hy is in jou situasie.  Hou vas, hou aan en druk deur!  Jou ‘mess’ word ʼn ‘message’ – vanuit jou situasie, sal ander kan leer.

Die uiteinde van Simon se verhaal is dat hy, Simon, weer terug geklim het in sy skuit.  Die keer saam met Jesus.  Hy antwoord Jesus: “Here, op U WOORD sal ek weer probeer.” Hy het sy nette nog een keer gegooi in geloof en toe was sy nette vol!

Jesus is in jou saak, moenie stres nie.  Moenie van jou dinge af wegstap nie, dit is nie ʼn ‘useless case’ nie.  Laat Jesus dit vir jou bestuur.

Ek bid dat jy in 2016 sal sien hoe Hy alles vir jou laat uitwerk.  Mag alles wat jy van Hom gebid het, in vervulling kom. Lees Psalm 20.

ʼn Wonderlike 2016 bid ek jou toe.

Seënwense,

Karin

 

 

 

 

 

 

 

Bye-Bye Gemiddeld wees

BYE-BYE GEMIDDELD WEES – Ek wonder of dit moontlik is? So banaal. So vanselfsprekend! Wees net gemiddeld en alles is in orde! Vandag wil ek met jou daaroor gesels. Kan dit gedoen word en indien wel, hoe? Stap saam my die pad, miskien kan ons maar inhaak en dan maak dit die reis makliker.
Daag jouself uit om meer te doen en te bereik as die vorige klompie maande. Jy kan!! . Ons moet mekaar uitdaag. As jongmeisie het ek gedroom van sukses, roem, toekoms ens. Ek wou sangeres word, op die tv verskyn en honderde aanhangers en bewonderaars hê. Ek wou ʼn sterk bank balans hê – mooi klere aantrek en gereeld gegaan het vir ‘facials’ ens. Wat is daar nie alles wat ek nog aan kan dink nie
Vandag? Ja vandag is ek net ʼn gewone vroutjie. Pastoor van ʼn kosbare gemeente. Wonder of iemand my raaksien, of is ek sommer net ʼn gemiddelde mens.
Nee wag, ek is moeg vir middelmatigheid. Dit is nie nodig om in die slaggat van middelmatigheid te trap nie. Jy ook nie! Jy het nie nodig om middelmatig, taamlik gewoon of niks besonders te wees nie. Middelmatigheid laat geen ruimte vir groei en verandering nie. Jy sus jouself en jou selfbejammering met: “As ek more nog dieselfde mens as vandag is, is dit ook maar goed so. Ek moenie te veel gepla wees nie, almal maak maar so…”
Hoe beveg ons die karakter wat elke dag saamstap: middelmatigheid? Hier is ʼn paar voorstelle om finaal met die gemiddelde mens wees af te reken. Eerstens moet ons begin om anders te dink. JA JA… jy het reggehoor! Verander jou denke! Jou gedagtes skep die realiteit waarin jy leef. Hou op om te dink dat die maar die manier is hoe jy dink en hoe jy nie is nie. Is dit dalk nie die rede hoekom die lewe so verby jou gaan nie. Om ‘anders’ te wees – moet jy bewus wees van denkpatrone wat jou verhoed om uit te styg en bereid te wees om te verander. Vervang dan die negatiewe denkpatroon met opbouende frases soos: “Ek het wat nodig is om ʼn sukses te maak.”
Nog ʼn voorstel is: Hou op om bang te wees. Vrees vir verandering en mislukkings. Waag.. dit is die moeitewerd. Om bang te wees vir mislukkings is in om jou eie vermoëns te twyfel. Stel vir jouself nuwe doelwitte, al gaan dit maar stadig, hou net aan. Dit sal bydrae dat jou vrese ook sal verminder.
Die doelwitte wat jy vir jouself stel, sal jou visie weer instel. Soms raak ons so vasgevang in die hede dat ons vergeet om na die toekoms te kyk. Leef vir die oomblik. Kry weer koers EN hou op verskonings maak. Daardie liewe, ‘AS EK MAAR DIT… AS EK MAAR DAT!” ai! Kom nou… “Daag jouself uit”
Geen mens is net ʼn gewone mens nie. Maar jy moet bereid wees om die eerste stap te neem. Wees braaf, neem die besluit om te verander en doen iets daaromtrent. Jy kan!!!

Hou aan met bid!

Het jy ooit by die plek gekom wat jy bid en bid en wag en wag, maar alles is doodstil. Jy wonder selfs of daar werklik ‘n Here in die hemel is; of is daar iemand daar buite wat hoor as jy sug? Daar kom tye wat jy moedeloos raak en ander kere sommer maar net opgee. Nee, moenie opgee nie! Ek wil jou vandag bemoedig met die Woord. Daar is drie dinge uit die versgedeeltes wat my vasgryp. Vat vandag hierdie belofte en maak dit jou eie!

1. Psalm 6:9b – Die Here het die stem van jou geween gehoor
Die Here hoor en sien wanneer jy huil. Jy is nie alleen nie. Moenie dat die vyand vir jou jok nie. Psalm 56 skryf Dawid dat die Here selfs jou trane opvang in ʼn kruik. Elke traan wat val weet Hy van. In 2 Konings 20 sien ons dat die Here ook vir Hiskia, toe hy dink hy gaan sterf, gesê het: Ek het jou trane gesien…! Vandag wil ek jou bemoedig! Die Here hoor die stem van jou geween – al kan niemand anders dit hoor nie. Al huil jy in jou kussing, Hy hoor jou! EN Hy sien jou trane.

2. Psalm 6:10a – Die Here het jou smekinge gehoor
Om te smeek is seker die uiterste wat mens kan gaan om iets te vra. Dit is meer as net vra: dit is uit jou hart uit. Wat is dit wat jy voor smeek. Is dit vir jouself? Miskien vir jou kind – of dalk jou man. Miskien wag jy vir ʼn antwoord rondom jou werk – en jy smeek elke dag die Here om in te gryp. Ek wil jou bemoedig: moenie op hou nie! Hy hoor jou smekinge! Joh 15:6 leer Johannes ons: As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

3. Psalm 6:10b – Die neem jou gebed aan
Wat ʼn versekering! Die Here, onse Here, neem jou gebed aan. Die Psalm digter skryf in die Good News vertaling: Ps 138:8 “I will do everything that I have promised!” Daarom sê vir hulle: So spreek die Here Here: Geeneen van My Woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as Woord spreek, dit sal gebeur! Ese 12:28

Ek bid dat jy vandag sal moed skep! Hou aan bid! Jou deurbraak is voor die deur!
Sterkte

Geestelike Tsunami

As ek dink aan die Tsunamies wat o.a. die 11de Maart 2011 hoor van die Tsunami wat Japan getref het: ril ek.  Dit was op elke persoon wat ek teë gekom het se lippe.  Ja, daar was selfs diegene wat onvanpaste uitlatings gemaak het, en dan weer daardie persone wat besef het dat dit alles net spreek van hoe naby die koms van Jesus is.

Ek het gaan sit en dink aan die geweldige groot golf water.  Die oomblik toe die golf breek, het dit alles wat in die pad gekom het, meegesleur en net eenvoudig uitgevee… Als was weg gevee deur ‘n massa water. Dit was erg!

Die Woord leer ons dat wanneer ons van al hierdie dinge hoor, ons nie bang moet word nie, maar net weereens sal besef hoe naby die koms van Jesus is. Ons is in die laaste dae, en ons moet ons gereed maak vir Sy koms!

 Ek het gaan kyk na Handelinge 2:17 – “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van My Gees uitstort op alle vlees …”  Is dit nie wat ons moet ervaar nie?   

My liewe vriend(in), ons moet die Here nou meer as ooit begin soek! Ek weet dat Hy Sy Gees soos ʼn geestelike tsunami oor ons sal laat losbreek:  hierdie Golf sal ons nie vreesbevange maak nie, maar opgewonde, want dit is dan wanneer ons wonders en tekens sal sien gebeur.  Dit is dan wanneer al die slegte dinge in die mens se lewe weggesleur sal word en die mens ʼn skoon kanaal vir Sy werk sal wees.  Kom ons hou vas, bly biddend, soek die Here en verwag die uitstorting van die Heilige Gees – hierdie Geestelike Tsunami!

Staan weer op!

Een van die ergste dinge wat mens kan oorkom is om te val… Dit is seker een van die vinnigste reaksies wat ʼn mens kan hê: jy vlieg op en maak seker niemand het jou dalk gesien nie. Kan jy met my saamstem?

Net so kom jy ook op ʼn plek waar jy geestelik val. Foute maak. Jy voel geestelik asof alles net nie wil uitwerk nie. Jy voel jy kan en wil nie ander in die oë kyk nie. Jy weet nie wat ander gaan sê as hulle moet hoor nie. Op die oog af lyk alles so ‘reg’- maar jy weet jy het eintlik geval. Jy het weer die fout gemaak;  jy het weer gefaal;  jy het weer misluk!

Die profeet Miga se stem het tot die volk gekom:

Wees nie bly oor my nie, o my vyandin!

Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is ‘n lig vir my. Miga 7:8 

Miskien is daar ander wat ook vir jou lag; of dalk wat hulle in jou omstandighede verlekker. Miga skryf en sê: Julle kan maar lag, al het ek geval, ek staan weer op.  Al voel dit vandag dat jy jouself a.g.v. jou foute – in die duisternis bevind: onthou Jesus is die Lig en Hy sal jou daaruit haal.

Vers 18 – 19 skryf Miga: Daar is geen ander God wat met U vergelyk kan word nie, want U vergewe die sonde van U volk wat oorgebly het. U bly nie vir altyd kwaad nie, en U wil graag U getroue liefde aan ons bewys. U sal ons weer jammer kry en ons sondes onder U voete vertrap en hulle diep in die see gooi.

Die belangrikste is om te erken jy het  ʼn fout gemaak. Dit is die eerste stap. Erken jy het geval en sit in die duisternis. Jesus is getrou (1 Joh 1:9) om al jou oortredinge te vergewe. Meer as dit: Hy vertrap dit onder Sy voete en gooi dit in die diep see. Sy genade is vir jou genoeg. Staan net op! Al het jy geval, jy moet WEER OPSTAAN! Miga bevestig in vers 18 dat Vader se toorn nie ewig hou nie, Hy het ʼn welbehae in goedertierenheid.  Hy is genadig, barmhartig en goedhartig: Staan net op. Die Woord leer ons in Rom 3:23 dat ons almal gesondig het – dus: staan op en bely! Hy hou ingedagte wie en wat jy  is (Ps 103:14), sit jou hand in Syne en staan op!  Al het jy geval – jy staan weer op!

Groot manne en vroue het al geval. Moses, Dawid, ens.  In ons tyd: o.a. Jimmy Swaggart, Evan John Roberts, Maria Woodworth-Etter en nog vele meer, maar die geheim is, hulle het soos die verlore seun van die Bybel gesê: Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, (Luk 15:18) en hulle het! Gaan kyk maar.

Rick Warren skryf: THE ONLY WAY TO GET UP IS TO GET DOWN ON YOUR KNEES!!!

Staan op! Jy kan! Jy is nie alleen nie. Nader tot Hom en Hy sal tot jou nader. Staan net op! En begin weer oor. Moenie bly lê nie. Sê vir jouself: Julle kan almal maar lag, ek het geval, ja, maar ek staan weer op. Ek is miskien vandag in die duisternis, ek weet Hy is my lig. Ek kies, om op te staan.

Sterkte

Moenie haastig wees nie – glo

Wat is dan makliker as om vir iemand te sê: Man, glo jy net!
Om te kan glo en te vertrou, is makliker gesê as gedoen. Ons besef dat die Woord ons leer dat geloof ʼn vaste vertrou is op die dinge wat ons hoop en ʼn bewys is van dit wat ons nie kan sien nie; maar hoe doen mens dit?
Is dit nie dalk waar jy ook vandag is nie: Glo net: en jy probeer maar niks gebeur of verander nie. Miskien is jou situasie nie so maklik nie en dit voel asof jy dit kan uitskreeu dat mense jou net kan uitlos, terwyl jy kou aan die gedagte van : glo net.
Hoe doen mens dit? Hoe glo jy as dit dan so lank neem? Wanneer kom die antwoord? Wanneer word die saak opgelos? Wanneer sal die uitkoms daar wees? Hoe sal dit gebeur? Is dit moontlik? Kan dit gebeur? Wanneer? Wanneer?
Inteendeel, hoe langer jy wag, hoe erger is die situasie, hoe minder lyk dit na ʼn uitkoms. Alles lyk elke dag net meer en meer na ʼn fiasko.
Hoe gaan dit gebeur? Wie sal tot jou redding kom? Help!!!
Ek het nuus vir jou: Jes 28:16 leer ons: Hy wat glo – sal nie haastig wees nie! Ek weet dit is die laaste wat jy nou wil hoor – maar glo my dit is die waarheid. Hy (onse Here Jesus) is getrou – Hy sal jou nie in die steek laat nie – moenie haastig wees nie. Soms is ons les meer in die ‘wag’ as in die oplossing. Ek dink ons as mens sukkel geweldig met die ‘wag’. Ek belowe jou vandag – as jy kan glo… wag! Moenie haastig wees nie. Op die regte tyd, regte oomblik, regte manier sal God vir jou deurkom! Wag jy net – moenie haastig wees nie! Glo net!!

Pessimis of Optimis?

Ek groet elkeen in die onfeilbare naam van ons Heer en Meester, Jesus Christus.

Elke keer wanneer ons na die media luister, hoor mens net slegte nuus; en dit laat mens besef die toekoms lyk nie goed nie. Vrees en onsekerheid is aan die orde van die dag. Die vraag bly egter staan: Wat doen ons wanneer dinge nie so goed lyk nie? Ek het onlangs op hierdie stukkie wysheid afgekom:

The pessimist mainly complains about the wind.
The optimist simply expects it to change.
The realist wisely adjusts the sails.

Dit is so waar. Watter een van die drie is jy? ‘n Pessimis wat net kla of ʼn optimis wat net eenvoudig ‘verwag’ dat daar ʼn verandering sal kom, maar self niks doen nie. Of is jy ʼn realis, daardie iemand wat iets doen, wat die werklikheid sien en dan iets daaromtrent doen.

Dit is my gebed dat ons meer realiste in die gemeente sal hê. Mense wat gewillig sal wees om hul denkwyse aan te pas oor die lewe, en veral oor ons Koning Jesus. Wanneer ons dink die toekoms lyk nie goed nie, tap dit al die energie uit ons uit en al wat dit by die mens laat is vrees, neerslagtigheid en ʼn ‘dors’ na ʼn beter toekoms. Die Here is gereed om ons te help. Hy vat die vrees weg en gee ons ʼn hoopvolle toekoms… En GELOOF! Jes 44:3 sê “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond!” Die King James lees: ” For I will pour water upon him that is thirsty, and floods upon the dry ground.”

Ek raak so opgewonde oor die Woord: God het gesê!!! Ja, Hy het gesê!!! Hy sal voorsien, Hy is getrou, Hy is Alomteenwoordig, Hy is die antwoord, Hy is die Herder, Hy is ons Geneesheer, Hy is Wonderbaar! Geen wonder Martin Luther het eens op ʼn tyd geskryf: “Your thoughts about God are too human.” God het gesê Hy sal die water van die lewe op ons uitstort – niks is by Hom onmoontlik nie! Hou vas, staan vas en leef soos ʼn realis! Dien die Here en Hy sal voorsien, ver bo wat jy ooit kan hoop, dink of verwag! Al lyk die toekoms hoe faal of deurmekaar, God bly in beheer!

Sit jy?

“Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit,
sal vernag in die skaduwee van die Almagtige”
Ps 91:1

Die woord “Psalm 91” is orals te siene, mense plak dit op hul voordeure en motor buffers. Hierdie Psalm word na verwys as die Psalm wat die mensdom ‘beskerm’. Ek het hieroor gaan sit en dink. Is dit dan al wat die Psalm van spreek: Beskerming? Tereg is dit so – Die tema van hierdie Psalm of gebed is: skuiling by die Allerhoogste en ook die beskerming van die Almagtige.

Ek was so seker dat ons iets mis. Wat kan dit wees? En daar sien ek dit: dit is hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste SIT – let op SIT, wat sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Die voorwaarde wat ons so maklik mis, is SIT. Dit is meer as net liggaamlike en besittings wat beskerming word. Dit is geestelike beskerming ook. Hoe kan ek verseker wees daarvan? SIT. Dit is dus ʼn plek wat ingeneem moet word.

Die King James Vertaling verwys na die SIT as ‘dwelleth” (properly to sit down, in quiet, to settle, tarry.)

Met ander woorde: om te gaan SIT beteken dat ons by die Allerhoogtes moet gaan SIT- In Sy teenwoordigheid moet kuier, naby aan Hom kom, te luister na wat Hy wil sê, sommer net daar te wees. Om te SIT spreek van ‘rustig wees’ en te wag. Wanneer ons met iemand kuier en bietjie wil SIT, is daar nie tyd ter sprake nie, jy wil daar sit en net rustig wees. Reg? Net so verwag onse Hemelse Vader dat ons tyd sal maak om by Hom te SIT.
Wanneer daar ‘n golf van emosies begin op-stoot binne ons, kan ons maar net na die Allerhoogste gaan en bietjie by Hom SIT. Dit is daar waar ons kan uitroep, daar waar ons kan huil en net onsself wees. Dit is daar waar ons antwoorde kry, daar waar ons vertroosting kry, dit is daar waar ons met die Heilige Gees vervul en gevul sal word.
Wanneer laas het jy net ‘n bietjie by onse Here Jesus van Nasaret, gaan SIT? Wanneer laas? Wanneer laas? Of is dit net ‘n Psalm plakker wat op die buffer van die motor of aan die voordeur aangebring is.
Onthou: die geheim van die alles is: SIT.
Ek wonder, SIT jy? Of is jy aan die hardloop? Word bietjie stil en dink… wat maak jou so besig dat jy nie net bietjie kan SIT nie?

Hoop of Wanhoop – Jy kies!

Mens kan amper nie glo dat ons die winter oorleef het nie: Of het ons? Die natuur spreek nog soveel van winter, maar volgens die kalender, is dit lente. Ons glo dit, ons weet dit, maar die vraag is: Is dit?

Oor hierdie gedagte het ek gedink en is dadelik herinner aan Salomo so stelling in Hooglied 2:11-13 “Want kyk, die winter is verby, die reëntyd is oor, dit het verbygegaan. Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land. Die vyeboom laat sy voorvye uitswel, en die wingerdstokke wat bloei, versprei geur.”

Wow! Wat ʼn belofte! Die sangtyd het aangebreek, die wintertyd is verby en die bloeisels word gesien. Dit is miskien die geval in die natuur, maar hoe gaan dit met jou? Bevind jy jouself nog in die ‘winter’ seisoen, of is die uitkoms vir jou, in sig? Lyk dinge al beter? Onthou dit is nie wat jy sien nie, dit is wat jy glo. Dit is waarop jy hoop wat tel! Hoop jy nog op ʼn beter lewe en toekoms?

Ek wil bietjie stilstaan by “HOOP”. Hoop jy nog op ʼn sangtyd, ʼn tyd waar dinge begin beter gaan. Is daar nog hoop? Het jy hoop?

WAT IS HOOP? Hoop is ʼn verwagting, ʼn vooruitsig en ʼn vaste vertroue. Hoop is ʼn anker. John Howard Payne het eendag geskryf: “Niemand weet wat alles op die oop see kan gebeur nie. Niemand sal die see invaar op ʼn skip wat geen anker het nie, selfs al is dit die mees moderne en beroemde vaartuig. Daar kan skielik toestande ontstaan wanneer die skip en almal aan boord se enigste hoop die anker sal wees: nie die kaptein of die bemanning nie; nie die masjiene, die kompas of die stuurwiel nie, maar die anker! Wanneer alle ander dinge misluk, is daar hoop in die anker.” Hoop is goeie nuus: iets soos ʼn opkikker. Die woord “hoop” kom 306 keer in die Woord van die Here voor. Hoekom soveel keer? Hoop koester ʼn verwagting.

Hoop is een van die drie elemente, soos in 1 Kor 13:13 aangedui: “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” Hoop is om my vertroue in iets te sit, om te vertrou met ʼn verwagting op iets goeds; hoop dat alle dinge sal regkom. Daardie blye gevoel van opgewondenheid; ʼn gevoel van geloof. 1 Pet 1:13 moedig ons aan om nugter en vol hoop, tot die einde, te wees. Iemand wat vol hoop is, is altyd optimisties en positief oor die toekoms en die verloop van sake.

Liewe vriend(in), hoe staan dit met jou ‘hoop’? Het jy nog hoop? Sien jy al lig en weet dat hoop op sigself ʼn wonderlike ding is. Dit gee jou lewenslus. KYK!!! Skryf Salomo… die wintertyd is verby! Die bloeisels is sigbaar én die tortelduiwe sing.

Teenoor hoop staan wanhoop, en in albei gevalle kies jy oor hoe jy gaan of wil voel. Die woord ‘wanhoop’ kom slegs 43 keer voor. Ongelowiges is sonder hoop. Paulus skryf in Efe 2:12 dat as iemand sonder Christus is, hy sonder hoop en sonder God in die wêreld is. Wanhoop wek vrees, angstigheid; dit verlam jou en kan selfs dodelik wees. Die gevoel van hopeloosheid wek negatiwiteit en pessimisme. Jy is in ʼn gat van neerslagtigheid en dit beïnvloed almal om jou. En jy voel alleen: bitter alleen en verlate.

Vandag wil ek jou hoop gee: Ewige hoop in Jesus Christus. Moenie moed opgee nie. Hoop, geloof en vertroue loop hand aan hand (Heb 11:1). Die Here is die hoop vir Sy volk (Joël 3) en Rom. 12:12 leer ons om ons te verbly in die hoop: geduldig te wees in die verdrukking en te volhard in die gebed. Liewe vriend(in), jou hoop is net in Jesus, want Hy is getrou en ons kan op Hom vertrou. So ook word ons herinner dat die hoop nie beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is. (Rom. 5:5)

Maar wat as jy nou al lankal hoop en dit het nog nie in vervulling gekom nie, dit voel net asof niks gebeur nie? Dan wag jy daarop! Rom. 8:25- “Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. Skep moed en bly hoop”. “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 15:13) Moet dus nooit ophou hoop nie. Abraham het op hoop teen hoop geglo (Rom. 4:18). Alles was teen hom, maar hy het bly hoop en glo.

Onthou om nie ‘hoop’ te hê nie, kan nadelige gevolge ook op jou gesondheid inhou. David Neff het navorsing gedoen en bewys dat mense sonder hoop ʼn 20% groter kans het dat hul slagare vernou, teenoor iemand wat hoop het en ʼn optimis is. (1997 Journal of the American Heart Ass). Self die Woord waarsku ons: Spreuke 13:12 – ʼn uitgestelde hoop maak die mens se hart siek

Met hierdie skrywe wil ek elkeen bemoedig: Moenie ophou hoop nie! Hou vas aan die WOORD. Ek los ʼn paar Skrifte om aan vas te hou.

 Spr. 23:18 Waarlik, daar is ‘n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
 Jer. 29:11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.
 Heb. 6:18 sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê
 Rom. 15:13 En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!
 1Kor 13:13 En nou bly geloof, hoop, liefde–hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
 Job 13:15 Kyk, al wil Hy my ombring–ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.

Hou vas en onthou: hou moed en bly hoop! Die uitkoms is daar! Die bloeisels is sigbaar op die land en die sangtyd het aangebreek!

Onthou ons het nie ʼn hopelose einde nie, maar eerder ʼn hoopvolle toekoms!
Halleluja!
Karin

Help my!

Ek wil sommer net met jou bietjie gesels. Ek wonder net… hoe gaan dit met jou? Ag, kom nou, ek weet jy gaan – soos soveel ander kere – my antwoord met: Goed dankie, en jy? Ek weet dit is nie altyd die geval nie. Hoe gaan dit regtig vandag met jou? Wat voel jy wanneer jy vanaand stil raak en almal om jou slaap: Hoe gaan dit dan met jou?
Die nuwe dag lê nog ver; die donkerte help nie regtig nie. Jy weet nie hoe jy die dag in die oë kan of gaan staar nie, jy weet nie hoe om te maak nie. Alles lyk so ‘onmoontlik’, so … so ummm, na ʼn bang! Ja, ʼn bang! Jy weet net nie! Jy bang sommer net, bang vir bang! Is dit hoe dit met jou gaan? BANG? Verskrik, bevrees? Alles lyk so deurmekaar!
Skakel mens die TV aan, is dit aanranding, verkragting, moord en roof. Word daar gekuier by vriende of familie, is dit al waaroor gesels word: al die dinge, die bangmaak dinge! Dan is daar nog die probleme by die huis. Die finansies lyk nie goed nie, die kinders sukkel, jou maat word stil en skielik voel jy nie net bang nie, maar ook alleen. Heeltemal alleen en verlate. “Hoe en waar en wanneer” is al wat heeltyd deur jou gedagtes gaan. HELP! HELP! is al woorde wat jy kan uiter… help… help! Dit is die laaste woorde wat oor jou lippe prewel en in jou gedagtes ronddwaal voor uiteindelik in ʼn onrustige slaap wegsak.
More lê voor… hoe gaan dit nou?
Ek het vir jou raad. Ja, jy het reg gehoor! Ek het raad!
Deut 31:8 het ʼn belofte waaraan jy kan vashou! Dit lees: “En dit is die Here wat voor jou uittrek! Hy sal met jou wees! Hy sal jou nie begewe en nie verlaat nie – jy MAG nie bevrees of verskrik wees nie” Is dit nie ʼn wonderlike belofte nie?
Maak nie saak hoe jy voel nie, maak nie saak wat jy dink of deurgaan nie; Die Here trek voor jou uit! Hy sal met jou wees, maak nie saak of jy alleen is of net so voel nie. Hy belowe jou dit!
Ek weet Hy is God en kan nie lieg nie, Hy sal ook nie ʼn belofte maak en nie daarby hou nie. Hy sal altyd Sy Woord hou. Daarom kan ek vandag vir jou sê: Moenie bang wees nie. Nog meer: JY MAG NIE BANG WEES NIE!
Hou vas, haal diep asem en weet vandag, jy is nie alleen nie, Hy is met jou!
Liefde
Karin