Ek wil sommer net met jou bietjie gesels. Ek wonder net… hoe gaan dit met jou? Ag, kom nou, ek weet jy gaan – soos soveel ander kere – my antwoord met: Goed dankie, en jy? Ek weet dit is nie altyd die geval nie. Hoe gaan dit regtig vandag met jou? Wat voel jy wanneer jy vanaand stil raak en almal om jou slaap: Hoe gaan dit dan met jou?
Die nuwe dag lê nog ver; die donkerte help nie regtig nie. Jy weet nie hoe jy die dag in die oë kan of gaan staar nie, jy weet nie hoe om te maak nie. Alles lyk so ‘onmoontlik’, so … so ummm, na ʼn bang! Ja, ʼn bang! Jy weet net nie! Jy bang sommer net, bang vir bang! Is dit hoe dit met jou gaan? BANG? Verskrik, bevrees? Alles lyk so deurmekaar!
Skakel mens die TV aan, is dit aanranding, verkragting, moord en roof. Word daar gekuier by vriende of familie, is dit al waaroor gesels word: al die dinge, die bangmaak dinge! Dan is daar nog die probleme by die huis. Die finansies lyk nie goed nie, die kinders sukkel, jou maat word stil en skielik voel jy nie net bang nie, maar ook alleen. Heeltemal alleen en verlate. “Hoe en waar en wanneer” is al wat heeltyd deur jou gedagtes gaan. HELP! HELP! is al woorde wat jy kan uiter… help… help! Dit is die laaste woorde wat oor jou lippe prewel en in jou gedagtes ronddwaal voor uiteindelik in ʼn onrustige slaap wegsak.
More lê voor… hoe gaan dit nou?
Ek het vir jou raad. Ja, jy het reg gehoor! Ek het raad!
Deut 31:8 het ʼn belofte waaraan jy kan vashou! Dit lees: “En dit is die Here wat voor jou uittrek! Hy sal met jou wees! Hy sal jou nie begewe en nie verlaat nie – jy MAG nie bevrees of verskrik wees nie” Is dit nie ʼn wonderlike belofte nie?
Maak nie saak hoe jy voel nie, maak nie saak wat jy dink of deurgaan nie; Die Here trek voor jou uit! Hy sal met jou wees, maak nie saak of jy alleen is of net so voel nie. Hy belowe jou dit!
Ek weet Hy is God en kan nie lieg nie, Hy sal ook nie ʼn belofte maak en nie daarby hou nie. Hy sal altyd Sy Woord hou. Daarom kan ek vandag vir jou sê: Moenie bang wees nie. Nog meer: JY MAG NIE BANG WEES NIE!
Hou vas, haal diep asem en weet vandag, jy is nie alleen nie, Hy is met jou!
Liefde
Karin
Hi Karin,
Ek sien myself as ‘n kind van die Here, maar dit gaan baie moeilik op die oomblik…
My man het laas Vrydag sy werk verloor…en ons kry die heeltyd dieselfde boodskap dat alles OK gaan wees…ons moet net vertrou en glo..
Ons tyd is ook nie God se tyd nie…en dis dit wat my heeltemal uitfreak….
Want ek weet ons gaan OK wees, maar wat van tussen nou en dan…???
Hoe moet ek sterk bly deur hierdie tydperk…ons het kinders en ‘n baba oppad…
Help met gebed asb.
Hi Hester… ek wonder maar net hoe dit met jou gaan? Hoe gaan dit met die swangerskap en het manlief al werk gekry?
Ek vertrou ons liewe Heer het onderneem. Ek wil bemoedig – moenie angstig rondkyk nie, vertrou op Hom. Hy belowe in Rom 10:11 in LB – Hy sal geen mens wat op Hom vertrou, ooit in die steek laat nie. Sterk wees, onthou jy is nie alleen nie.