Hoe lyk hy?

“Hoe lyk hy? Is hy lank? Dra hy bril? Is hy cool… ag kom nou, vertel, vertel, vertel!”

Sjoe al die vrae in een asem? Ja, hoe lyk is… hoe lyk hy?

Ek onthou dit nog soos gister, ander kon dit sien, ander kon dit aanvoel – hierdie ‘iets’ wat met my gebeur het. Hoe lyk hy? My hart het wild gebons, die wange blos, die oë wat glinster soos duisende sterretjies! Hoe beskryf ek dit… nee, hoe beskryf ek die man wat ek lief het. Vir my is hy die sterkste, die ‘mooiste’, die langste: die man wat my hart gesteel het. Vandag so byna 28 jaar later, laat hy nog steeds my hart klop!

Ek sit en dink: Ek weet nie eers hoe lyk die Een wat ek die liefste het nie? Hierdie Persoon wat my eerste liefgehad het. Hoe lyk Hy? Is Hy ook groot, is Hy sterk? Het Hy ook groot sterk arms? Is Hy die Man met die lang hare en sagte oë wat ons op elke kinder Bybel sien. Die Man met die lang wit kleed? Hoe lyk Hy?
Hierdie Man laat my hart klop. Wanneer gaan ek Hom sien? Sal ek Hom herken, sal ek weet dit is Hy wanneer ek Hom sien? Ek wonder?
Ek weet ek sal Sy hande uitken. Ek sal die merke sien, die teken wat vertel van Liefde. Ek sal Hom herken aan Sy voete. Die voete wat op die stofpaaie gestap het, die voete wat spreek van oorwinning. Dit is Sy voete wat my oorwinning gee om ook op slange en skerpioene te trap. Ek lees dat Sy voete die aarde as rusplek het. Dit is Sy voete wat diep spore in my hart getrap het. Die voete wat blink soos koper; maar hoe lyk Hy wat ek die liefste het?
Die Woord leer dat Sy hare so wit soos sneeu is en oë soos vuurvlamme. Daardie oë wat dwarsdeur mens kan kyk. Ai ek wonder? Ek staar net en ek dink.. Hoe lyk Hy?

Hoe gaan dit wees die dag wanneer ons van aangesig tot aangesig mekaar sal sien. Sal Hy my in Sy sterk arms optel en my teen Sy bors vasdruk. Sal Sy oë na my kyk en ek die liefdes vuur daarin kan sien. Ek droom van die dag…
Ek droom en verlang na die dag wat ons sal dans en dans en dans. Ek droom van die dag wat ons sal stap al langs die see… maar hoe lyk hierdie Man wat ek die liefste het, regtig?

Ek droom van hierdie Man, Jesus, wat ek die liefste het… en jy?

Ek wonder… wonder jy ook?

 

Bang

Elke keer wanneer ek die Woord oop maak om te lees, spring daar ‘n versie uit wat lees:  Moenie bang wees nie, of moenie bevrees wees nie.  Gee iemand vir my ‘n spesifieke skrifgedeelte, sal jy my glo? – is dit voorwaar iets rondom: vrees of bang!

Is ek bang, hoekom is ek nie so seker nie?  Is ek?  Of is dit sommer net ‘n gevoel?  Iets wat jou bybly die hele dag.  ‘n Gevoel van onsekerheid. ‘n Gevoel van ‘wat as’?  Dit is ‘n iets wat jou kan laat staar na ‘n niks, of ‘n pyn op die maag los, of sommer net ‘n gevoel van “jy is nie ok nie“.  Hierdie was die gevoel wat ek vir n week of meer mee geworstel het.  Ek weet die Skrif spreek dit baie duidelik aan deur te leer dat Vader ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie, maar wel van liefde, krag en selfbeheersing.  Hierdie ‘gevoel’ kan jou laat voel dat jy sefls ‘selfbeheering‘ langs die pad verloor het.  Dit laat jou voel jy verloor beheer oor jou menswees.  Die vraag “wat as” bly die hele dag by jou.

Skielik kom ek tot die besef:  dit is nie van die Here nie.  Hy het belowe Hy sal my nie alleen laat en my nie begewe nie.   Rom 10:11 leer duidelik dat Hy die wat op Hom vertrou, nooit ooit in die steek sal laat nie.  Ek besef dat Hy my voor en agterhoede is.  Ek besef dat Hy my Herder is en dat NIKS my ooit sal ontbreek nie. Ek moet breek met die gevoel van “wat as” en ook met die gedagte van “ek is bang“. 

Wat ‘n voorreg om ‘n Hemelse Pappa te he wat kan help met die tipe gevoelens.  Ek het die voorreg gehad om sommer net by Hom te gaan sit en te wag en te wag en te wag totdat ek ervaar het die ‘gevoel’ laat my in vrede. Ek het dit bely en net eenvoudig my alles aan Hom oorgegee.  Is dit nie wonderlik om net te kan oorgee en te weet Hy is in beheer nie.  Is dit nie amazing om te kan voel en ervaar hoe Sy vrede, wat alle verstand te bowe gaan, oor jou spoel nie?

Dit is waar ek my vandag bevind:  In Sy skaduwee, met Vlerke van vrede wat my net toevou.  Niks en niemand kan my ooit uit Sy hand ruk nie.  Ek kyk nie meer angstig rond nie,  ek weet wat ek weet!  Hy sal vir my fight, ek moet net stil wees.

Ek wil jou tog bemoedig:  sou jy wat my briefie lees, hierdie ‘goed’ ervaar.  Gaan sit net n ruk in Jesus se teenwoordigheid en wees stil.  Gee dit vir Hom en hoor hoe Hy (Jesus)  jou by jou naam roep.  Jesus is die antwoord  -  Hy is die rede van rustigheid.  Hy is vrede – moenie bang wees nie!!!

Hou vas aan Sy hand en weet!

Karin

Sing jy nog?

Dit is seker so 5 -6 jaar wat ek laas die vriendin raak geloop het. Dit is met n rooi gesig wat ek haar ‘vriendin’ noem. Na 5-6 jaar – skande! Daar was so baie om op te tel, so baie om te vertel; selfs af en toe ‘n traan gepik. Dit was so great om bietjie terug te blaai in die verlede. Ons het saam gewig verloor, saam gehuil, saam gelag, saam gestoei om die kinders deur die skool te kry.

Net voor ek die motor in tru-rat sit om huis se kant toe te staan, gooi sy my met ‘n vraag: Sing jy nog?

Hoeveel gaan die vraag nog vra? Laat verlede jaar het o.a. my buurvrou dieselfde soort vraag gevra: “Why don’t we hear the music anymore?”

Hoe antwoord jy op die vraag? Hoe vertel jy dit? Hoe verduidelik jy dit? Sing jy nog? Dit wat al die jare ‘n treasure was; dit wat jou ‘lewe’ was, waar is dit dan nou? Die vraag wat krap waar dit nie jeuk nie, die vraag wat jy nie wil hoor nie! Sing jy nog? Sing jy nog?

Half verlee, begin ek stadig teen die heuwel af ry – en antwoord sag: Soms, net as ek alleen is. Umm, ja ek sing nog!
Op pad huis toe bly die vraag my kop. Het ek die antwoord? Weet ek wat om te antwoord? Of het ek dit sommer net iewers te diep gebere?

Nee ek kies, ek gaan nie daaroor praat nie. Ek wil nie uitbrei nie. Los dit. Los dit net uit. Miskien eendag, ag eendag is ek miskien te oud. Maak in elk geval nie saak nie. Los dit net!

Vanoggend vroeg sit ek in Zellie se kamer en wag op Vader. Die gedagte van “sing jy nog” skoon verlore – heeltemal weg! En dit is toe dat ek die Skrif oopmaak… Soms praat die Skrif tot binne jou diepste wese… en toe staan dit daar!

Psalm 149:1 (LB) Sing ‘n nuwe lied vir die Here, sing om Hom te eer waar Sy getroues bymekaar kom. Nee!!! – ek kan dit nie glo nie: wie het gehoor en wie het geskinder. Hoe het Dawid geweet? Is dit die antwoord op “sing jy nog?” Is dit ‘n opdrag?

En skielik het dit stil geword…

Om klein kiddo’s in die huis te he is nie altyd van die maklikste dinge om te hanteer nie.. of sal ek se: mensies om te hanteer nie.  Dit is vuil handjies, taai merke orals en papiere met krummels daarby wat heeldag en aldag opgetel moet word…

So word hulle groot… later is dit nie meer die vuil handjies wat pla nie, maar eerder die klere wat op die grond bly le. Maar skielik.. skielik om ‘n gewone dag word alles net stil.. en die laaste een is uit die huis. Doodstil. Niemand behalwe jy en manlief. Dit het net skielik STIL geword.  Is dit wat hulle nou noem die “lee-nes-sindroom”?  Is dit hoe dit voel? STIL. Doodstil!

Tog besef ek vanaand wat ‘n voorreg ek gehad het om in my kiddo’s se lewens te kon bele het.  Dit wat ek gedoen het, het ek gedoen. Niks en niemand kan iets daaraan verander nie. Dit is nou wat ek besef dat die net die Woord is wat ek aan kan vashou. Dit is net die Woord wat troos, dit is net die Woord wat moed gee.

Ek lees ‘n belofte in Jes 59:12

Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.

Ons dien ‘n Verbonds God.  Hy sal nooit so ‘n belofte gee en dit nie laat geskiet nie. Ek hou net hieraan vas. Tog besef ek, hier in die stilte:  Here wat het ek in my mond? En is die Gees van God op my?  Eers dan weet ek dat die stilte die moeite werd is…

Het dit ook skielik by jou stil geword?  Hoe hanteer jy die lee nes?  Het jy ‘n belofte uit die Woord wat jy aan kan vashou? 

Groete hier vanuit die ‘stilte’

Dis special…

Ek stap in die winkel kompleks en loop ‘n bekende Oupa raak. Oppad uit, stoot hy ewe geduldig die trollie. Tot my verbasing sien ek dat die groot man, hierdie ‘Oupa’ net twee klein koek boksies daarin het. Ek is seker die ‘Oupa” kon my gesig lees, nee eerder my gedagtes lees. Hoekom dra hy dit nie, hoekom sit hy dit so kiertsregop in die trollie? Dit is tog nie swaar nie, wat sou daarin wees, en vir wie is dit… bo-op die boksie staan “bo” geskryf. Die Oupa het iets spesiaals in die boksies, dink ek – iets wat nie mag omval nie.

Nog voor ek kon vra, antwoord hy: “dit is vir ‘Lynette’ en haar dogtertjie – ek wil hulle sommer net bederf.”. Ek kon nie anders as om aan die knop in my keel te sluk nie. Hy gaan verder: “dit is ‘n cupcake – dit het so lekker gelyk, ek dink hulle sal daarvan hou.”

Sonder om nog uit te brei oor die cupcakes, vra hy na die welstand van die familie en groet en stap verder. Ek het omgekyk, hom agterna gekyk en gewonder – kan dit waar wees?  Kan daar nog sulke ‘Oupas” wees?  Hoe special!! Met trane wat in my oe opdam, draai ek terug en maak dat ek vinnig in die groot supermark instap.  Op en af stap ek tussen die rakke deur: doelloos, ingedagte, verslae!

Dit is wat ek ‘n ware Oupa noem.  Iemand wat uit die bloute ’n doodgewone cupcake vir sy dogter en haar poppie koop.  Die ergste is: dit is nie eers sy eie dogter of kleinkind nie: hulle is sommer net deur hom “aangeneem”.  Hy het ‘n besluit gemaak dat hy vir hulle gaan omgee en bederf.  Wow, Oupa, dit is so special!!!

Sonder enige pakkie stap ek daaruit.  Ek het skoon vergeet waarvoor ek gekom het.  Die doodgewone gebaar het my so aan die dink.

Natuurlik is ek lief vir cupcakes, natuurlik het ek self al ‘n paar dame tees gedoen met die boodskap ‘wees ‘n cupcake vriendin’ – maar hierdie was anders.  Hier was ietsie meer, hierdie gebaar het my hart geraak.  ‘n Oupa met ‘n groot hart!  Skielik het ek so gewens ek het ook so ‘n Oupa geken!

Ek het dadelik gewonder of Lynette dit waardeer? Ek het gewonder of sy dit sien soos ek dit gesien het of selfs gevoel het?  Dit maak nie saak nie: wat wel tel is: – Oupa jy is special.  Dit wat jy gedoen he,t is special.   Ek hoop en bid dat baie ander Oupas hieruit sal leer.  Kom Ouma en Oupa, gaan en maak ‘n verskil – leer by die Oupa se mooi gebaar. 

Dit is nie net Oupas en Oumas wat iets specials moet doen nie- ek en jy kan ook!  Kom  laat ons sommer vandag ook ‘n  klein wit boksie met n spesiale cupcake koop vir daardie iemand special …  sommer net! Sonder ‘n rede!

Dis so special..

Lynette = skuilnaam

(Dankie aan my cupcake vriendin – sy het my op my verjaarsdag bederf met my eie ‘cupcake’ ?  Dis was so special!)

Die Here dink aan my!

Ek het al soveel keer in my lewe gewonder of die Here regtig aan my dink?  Is Hy bewus van my?  Elke oomblik? 

My vorige huishulp het altyd vertel hoe haar dokter haar vermaan het deur te se: Jy denk te veel.  Dit is so, soms ons ‘denk ok te veel’ – soos sy dit uitgedruk het. Dit waaraan ons dink is nie altyd iets om oor op en af te spring nie, soms maak dit ons hartseer,soms dink ons aan dae lank gelede, ander kere weer aan iets wat besig is om in ons lewens plaas te vind.  Tog is daar ook kere wat ons dink aan dit wat in ons Geestelike lewe aangaan…?

Waaraan dink jy?  Wat is in jou gedagtes vandag?  Wat maak dat jy sommer so in die verte in staar?  Wat is dan fout?  Wat pla?

Ek het goeie nuus!  Die Woord leer my in Psalm 40:18 – “Al is ek ellendig en behoeftig – die Here dink aan my“   Wow, is dit nie wonderlik nie…?  Dit maak nie vandag saak wat in jou lewe aangaan nie, die Here dink aan jou! 

Ek weet jy het gedink jou omstandighede is te ellendig of selfs te behoeftig.  Dit maak nie saak waarin jy jouself bevind nie… die Here dink aan jou!  Dit is amazing om te weet dat die God van die heelal aan ons dink.  Die Skepper van alle dinge, die Een wat ons so goed ken dat selfs die hare op ons hoof getel is.  Hy dink aan jou!  Hy dink aan my!!

Ek wil jou bemoedig; hou op om te dink aan al die ellende en behoeftes van jou lewe – dink eerder daaraan dat Hy aan JOU dink!  Hy is bewus van alles wat met jou aangaan. Hy is bewus van elke sug, elke pyn, elke bekommernis!  Hy is lief vir jou!  Hy gee om vir jou!  Hy dink aan JOU!!

Jy is kosbaar

Liefies

Karin

Alles, ek se jou…. alles!

Ek lees uit die Lewende Bybel –  1 Petrus 5:7: “Neem alles wat jou kwel na Hom toe en laat dit daar by Hom; want Hy het verantwoordelikheid geneem vir jou!”

Daar is tog so baie wat ons as mens kwel, as dit nie die werk is nie, is dit die kinders, of die huwelik.  Ja sowaar, dan kan ons ons tog so gou ook kwel oor  geld ( ja die geld wat nie eers daar is nie) en… en… ag sommer oor enige iets.  Dit is nou nie dat die media enigsens help om mens beter te laat voel nie, of jy nou die tv aanskakel of die radio, daar is altyd iets wat juis dit aanwakker waaroor jy jou kan kwel of sommer plain, WORRY!  Ai, dit is tog so aan die orde van die dag… almal kwel hulle oor iets of iemand.  Stem jy?

Ons sing so maklik: Don’t worry be happy… maar is dit werklik so maklik?  Nee, ons almal kwel ons – jy kan nie stry nie.  Wat pla jou vandag?  Wat is dit wat jou koppie die hele dag so besig hou?  Wat is dit wat jou wakker hou deur die nag?  Wat gee jou die knop op die maag, daardie ‘naar‘ gevoel wat jy net eenvoudig met niks kan afsluk nie, nie eers ‘n Bar-One help nie.  Wat is dit?

Ek het vir jou raad:  Petus skryf en se:  NEEM ALLES WAT JOU KWEL… jy het reg gelees.. Let op! ALLES.  Jy kan nie net sekere goed neem en die ander nog aan vas hou nie, dit sal niks help nie. Om ALLES te neem, gaan kos dat jy ‘n keuse moet maak.  Jy sal moet identifiseer wat dit is wat jou kwel en dan neem jy dit ALLES… ja ALLES na Hom toe!  Na Jesus toe!  Ek doen vandag ‘n beroep op jou, wil jy nie net vir ‘n oomblik stil word en besin oor dit wat jou kwel nie..  vat dit dan – ALLES – na Hom toe.

Die geheim is: LOS DIT DAAR BY HOM!  Weet jy, ons almal maak die fout.  Ons gaan so ver om ALLES wat kwel, wel na Hom te neem, maar ons los dit nie by Hom nie.  Ons tel dit ewe weer op en begin dan weer daaroor te kwel of  WORRY!  Ek besef dit is makliker gepraat as gedoen, maar my liewe mens, dit is die antwoord. LOS DIT BY HOM!  Jesus sal nie en kan nie ons probleem oplos as ons Hom nie vertou nie. Hy weet wat om te doen!  Los dit by HOM?

Hoekom? Hoekom sou ons dit dan doen?  Petrus verduidelik:  ”Want Hy het verantwoordelikheid geneem vir jou!”  WOW is dit nie great nie! Iemand neem verantwoordelikheid vir my en vir jou!  Jy kan dit – ja dit wat jou kwel -  – na Hom toe neem en dit daar by Hom los! Hy sal sorg!

Sterkte en onthou, Hy is baie lief vir jou EN Hy neem volle verantwoordelikheid vir jou! Glo my: glo die WOORD

Liefies

Karin

“Malle-koppie”

“Maak ‘malle-koppie’ – kom wys vir ouma..”  is woorde wat ek vir klein Lolliepop, van net so ‘n week of wat voor haar eerste verjaarsdag, se.  Al wat ek sien is tande: en die ou klein koppie swaai wild heen-en-weer. Dit is so cute, so onskuldig, so umm, ag net wat ‘n ouma kan dink… oulik! 

Ek het gaan sit en dink – hoekom sou ek se: Malle-koppie?

Mal is sy tog nie, of  is dit dalk ek wat mal is… haha, hoor hoe praat ek!  Dit is tog nie ‘n mooi woord nie, tog is die swaai van haar klein koppie  te kosbaar.  Die hele gesiggie lag, ogies en al… jy sien hoe blink die vrolike sterretjies daarin. Sy is salig onbewus van wat in die lewe om haar aangaan. Sy lag en verloor skoon haar balans soos sy die koppie heen-en-weer swaai. Ek self geniet elke oomblik.

Hoekom dan “malle-koppie“? 

Met ‘n frons tussen die oe sit ek en word stil. Is dit nie hoe die mens tog is nie?  Jou hele mens wees is soos iemand wat ‘n “malle-koppie” swaai – solank niemand tog kan agterkom hoe jy regtig voel nie.  Almal om jou dink jy is vrolik, maar is jy?  Niemand kom dit agter nie?  Jy skud nie die koppie uit pure lawwegeit nie, nee, jy skud dit om die aandag van jou hartseer en pyn wil af  trek. Terwyl jy diep – diep binne skreeu om hulp!  Sy wil ook ‘mal‘ wees, iets ‘mals‘ doen – enige iets doen, net solank niemand agter kan kom dat daar tog wel iets skort nie..

Dawid skryf in die Psalms – “I was right on the cliff edge, ready to fall, when God grabbed and held me” Ps 118:13 (Msg).  Jy sien, jy dink solank jy hierdie front op sit, sal niemand ooit agterkom dat jy eerder reg daar op die ‘edge van die cliff’ staan nie – gereed om te val.  Gereed om in te gee… gereed om op te pak. Gereed om om te draai. 

Is dit jy, liewe mens wat ‘n ‘malle-koppie’ maak en net voorgee?  Is dit jy wat probeer om dit so goed weg te steek? Is jy daar op die afgrond, besig om oor te val?

Moenie opgee nie… lees weer wat Dawid skryf – hy se: GOD GRABBED AND HELD ME!!!  Hy is daar saam met jou op die rand van ingee, op die rand van die afgrond waar jy besig is om na te val… Hy is daar!  Hy sal en wil jou gryp en styf vashou.  Hy het belowe in Heb 13:6 dat Hy jou nooit sal begewe en verlaat nie… onthou jy is nie alleen nie.  Laat Hom toe om jou biejtie vas te hou! Onthou Hy (Jesus) is baie lief vir jou en Hy is die antwoord!  Gee jou oor aan Hom en jy sal nie oor die afgrond van omstandighede val nie.

Ek  bid dat jy binnekort ‘n ware ‘malle-koppie’ kan maak en net LEEF!  Net soos Lolliepop, jou koppie agteroor kan gooi en kan LAG!  Dan sal almal die sterretjies ook in jou oe kan sien skitter… ware blydskap en vreugde jou deel wees! Jy KAN!  Liefies Karin

 (kyk hoe lekker lag Lolliepop!)

Onthou jy?

Skielik op ‘n dag kom jy by die plek waar jy nie kan onthou: is jy oppad in of is jy nou oppad uit nie.  Hoe het jy hier gekom, dit voel of jy gister nog ok was.  Wat het dan nou so verkeerd gegaan. Ja-ja, dit gebeur in die beste van  huise…  ag kom  wees vir een oomblik tog net eerlik met jouself - mens vergeet tog nie werklik nie.  Iewers agter in die koppie is al die inligting gestoor of ge’save’ –  soos die rekenaar taal dit sou uitdruk.  Al wat gebeur is, ons is nie seker of ons dit wil herroep nie, wil ons al die dinge van die verlede weer na vore bring, of wil ons sommer net die knoppie druk, en dit delete? Of dalk dit net eenvoudig ‘n ignore kap nie (soos die tieners dit sou uitdruk)

Tog is dit nodig om te gaan krap in al die files van ons lewe.  Daar is dinge gebere wat nodig is om aan gewerk te word – of nog beter - delete moet word. 

Dit wat gister gebeur het en nog iewers vassteek en nou die oorsaak is dat jy nie die greep van iemand se keel wil haal nie -is iets wat jou hele ‘harde dryf’ sal stadig maak en ook aan die einde van die dag, sal laat oppak.  Jy sien, liewe mens, daar is virusse wat daagliks in ons sisteme kom vassteek en dan is die gevolge daarvan, die dood.  Dit maak ons stadig, en ons funksioneer nie meer so goed nie..

Wil jy nie maar kom en die ou files uitsorteer en uitgooi of delete nie. Kom ons kry dit wat ons liewer nie wil onthou nie, uit en begin hierdie keer met nuwe herinneringe… dit wat jy graag sal wil onthou. 

 Kom, skakel jou eie menswees aan, en begin om skoon te maak. Vergeet en vergewe, of sal ek se, retrief en delete!!!

Moenie vergeet om die ‘re-cycle bin’ ook leeg te maak nie… 

Liefde

Karin

x

Jy oortref hulle almal!

“Jy oortref hulle almal”, hoor ek die dogter aan haar mami se, terwyl sy haar in ‘n greep beet het met die goudgeel bos blomme wat so half oor haar maer ou skouertjies  loer.  Die ou moeder se ogies blink,  ek moes weer kyk; was dit net ‘n blink in die ogies of was dit ‘n traan wat ek gesien het? “Jy oortref hulle almal” is al wat die mami hoor… kan dit waar wees?  Kan dit wees?  Sy klou krampagtig vas; knyp haar oe toe, gryp die agterkant van die dogter se strepies toppie vas terwyl sy net hard aan haar lip moes byt…  kan dit wees..?

Skielig druk sy haar weg, vee hard oor die gesig, en probeer hard om haar ‘pose’ te hou.  “Dankie my kind”, is al wat sy kan uitkry en vat bewerig die goudgeel bos blomme en draai om om dit in ‘n vaas te gaan sit. “Ek bedoel dit, Mami, jy oortref hulle almal” is al wat Elrien kan fluister en gaan sit op die bank en krap in haar groot sak op soek na ‘n tissue.  Hoekom glo sy my nie, hoekom stoot sy my weg?  Wat het veroorsaak dat sy eerder wegdruk, wegstap en selfs wegkyk, as om net ‘n drukkie te gee? Ag wat, miskien eendag! Miskien eendag sal ek ook verstaan. 

Ek sien in die weerkaatsing van die glas van die kombuiskas hoe Mami die blommetjies versigtig een vir een los in die vaas indruk… Geel was nog altyd my kleur van blomme… dankie sussa!  Ja jy het jou knap gedra my kind… baie knap!

Gelukkige Moedersdag vriendin

Spreuke 31:29 – Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.